Agterhoedgevegte of die “groot idee”?

Posted on Januarie 2, 2012 by

5


Al vir dekades heers in Afrikanergeledere spanning tussen diegene wat ‘n mens as pragmatiste kan beskou, en die wat idealiste genoem kan word.

Dan is daar nog diegene wat glad nie in volkskap en identiteit belangstel nie en net toevallig Afrikaners is en hulle self eerder iets anders noem. Hulle strewe gewoonlik net nog na geld en genot en lewe asof daar geen toekoms en geen nagelslag is nie. Van hulle praat ons nie eers nie.

Die pragmatiste is tipies diegene wat wel Afrikaners wil wees en bly, maar wat met die gegewens werk en dit as onveranderlik beskou. Dit is tipies die Afrikaners wat die NP in sy laaste jare, sedert FW de Klerk en selfs al sedert die laaste jaar van PW Botha se bewind, oorheers het.

Swart magsoorname in ‘n vereenigde Suid-Afrika is as onvermydelik beskou, en die Afrikaners moes daar binne opereer en die maksimum voordele bly behou. Die “groot idee”, destyds apartheid, is opgegee, in die hoop om die voordele daarvan, soos eie skole, eie woonbuurte, kultuurorganisasies, veiligheid, ‘n skoon omgewing, kortom die voortsetting van die Afrikaner-leefwyse en leefstyl, te kan behou. Vandag speel in Afrikanergeledere organisasies soos AfriForum en toenemend die VF+ daardie rol: hulle veg vir die dinge wat vir Afrikaners hier en nou direk raak.

Die idealiste was nog altyd die minderheid van die Afrikaners: hulle glo aan die “groot idee”.

In die beginjare van die Unie van Suid-Afrika was die groot idee die herwinning van die Afrikaner se vryheid na die totale neerlaag van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit moes bereik word deur eers weer Afrikaner-trots te laat herleef en te keer dat Afrikaners verengels. Die standardisering van Afrikaans as inheemse en nasionale taal van die Afrikaners was daarby ‘n belangrike instrument. Later het apartheid soos veral deur dr. Verwoerd verkondig, die groot idee geword wat aan almal sal reg laat geskied. Afrikaners (en ander blankes) se minderheidsposisie sal beveilig word en gelyktydig sal swartmense ten volle kan ontwikkel.

Namate apartheid nie meer ‘n regverdigbare groot ideaal was nie, maar ‘n toenemend onverdedigbare en selfs lelike ideologie van meerderwaardigheid en permanente onderdrukking geword het, het die idealiste die stig van ‘n eie Afrikanerstaat met volkseie arbeid as die groot ideaal aangegryp en daarvoor begin steun werf en begin werk.

SABRA, die Oranjewerkers, en later Volkswag en die Afrikanervryheidstigting het deur die idealiste ontstaan. Die idealiste was egter altyd ‘n minderheid, selfs binne behoudende en vryheidsgesinde partye soos die KP en later die VF+.

Die idealiste het eweneens geweet dat uiteindelike swart magsoorname ‘n gegewe is, maar anders as die pragmatiste was hulle nie bereid om te glo dat dit die einde van Afrikaner-selfbeskikking beteken en dat slegs nog agterhoedgevegte oor die klein dinge gevoer moet word nie.

Die idealiste staan in die tradisie van die Boerehelde soos de Wet, de la Rey en Hertzog, wat ook na die verpletterende neerlaag van die Tweede Vryheidsoorlog geglo het en gewerk het aan die herstel van die Afrikaner se vryheid, en nie, soos Smuts en Botha, Britse oppergesag aanvaar het en die beste vir die Afrikaner daaronder wou beding deur so aanpasbaar as moontlik te wees nie.

Die pragmatiste het wel ‘n punt en hulle benadering kan nie sonder meer afgeskiet word nie. Hulle bereik van tyd tot tyd ‘n simboliese oorwinning, soos die haatspraak-uitspraak teen Julius Malema, die uitstel van pleknaamsveranderings of die behoud van ‘n Afrikaanse skool, meesal deur ‘n kombinasie van regsaksies en die gebruik van die grondwet en betogings en petisies wat simpatiek deur die media gedek word.

Hierdie klein suksesse gee mense weer hoop en maak hulle lewensomstandighede vir ‘n ruk weer draagliker. Die redenasie van die pragmatiste is gewoonlik dat die ideaal van selfbeskikking goed en wel is, maar dat dit min met mense se werklike probleme en bekommernisse te make het en dat hulle nou, en daar waar hulle woon, gehelp moet word.

‘n Mens kan egter ook sê dat die pragmatiste agterhoedgevegte veg en aan Afrikaners ‘n fopspeen gee. Die pragmatiese benadering sonder om die groot ideaal in gedagte te hou, beteken egter min. Die blankes in Zimbabwe was pragmaties: hulle het besigheid gedoen, geboer, die land opgebou en instand gehou, hulle uit die politiek uitgehou en voortgegaan met hulle klubs en gesellighede. Dit alles het nie verhoed dat hulle grond gevat en hulle verdryf of vermoor is nie, of vandag ‘n armoedige bestaan moet voer omdat die ekonomie totaal geruïneer is nie.

Die groot idee alleen sonder die vermoë om dit uit te voer beteken egter ook min: al vir dekades ontwerp sekere idealiste kaarte en grondwette van Afrikanerstate maar het nog steeds geen plek opgebou waar dit in praktyk werk nie.

Wat ons moet doen is om die twee benaderings te trou as pragmatiese idealisme: Die ideaal wys die weg, Vryheid. Die uitvoering is egter pragmaties solank die doel nooit uit die oog verloor word nie. Orania is ‘n produk van idealiste wat nie net bly vassteek by praat nie, maar wat reeds doen. Met die benadering van pragmatiese idealisme kan ons byvoorbeeld sê dat ons vir die oomblik tevrede is om slegs een dorp as volkstaatgroeipunt uit te bou want ons kapasiteit vir meer ontbreek tans nog. Tog mag ons nooit so pragmaties raak dat ons sê een dorp is vir ons genoeg en ons aanvaar vir altyd die vreemde bewind bo oor ons nie!

Pragmatisme wat die strewe vir Vryheid en ‘n eie land uitskakel en slegs versagting van die permanante onderhorigheid probeer bewerkstellig beteken min. Idealisme wat nooit tot die daad oorgaan nie en wat weens “suiwerheid” net met niemand kan saamwerk nie beteken egter nog minder.

Die idealisme wat ons voorstaan is die idealisme van die daad. Sien die goue toekoms op die horison en bou saam aan die pad daarheen.