Hoe vaar die VF+ deesdae?

Posted on Januarie 11, 2012 by

104


Die VF+ stel jaarliks ’n verslag op waarin hulle die ANC-regime se prestasie in verskeie velde meet. Dit handel basies oor al die verpligtinge wat die ANC-regime veronderstel is om na te kom en dan word die regime  ’n punt uit 10 vir elke kategorie gegee, gemeet aan hul werksverrigting en resultate in elke kategorie.

Dit sal interessant wees om die VF+ se prestasie oor die afgelope 18 jaar te meet aan die hand van die volgende 5 kategorieë:

  1. Uitvoering van missie
  2. Uitbouing van ondersteunersbasis
  3. Ontwikkeling en bevordering van die Afrikanerjeug
  4. Skakelwese op nasionale en internasionale gebied
  5. Doeltreffendheid as binne-parlementêre opposisieparty

Uitvoering van missie

Die Vryheidsfront is in 1993 gestig onder leiding van genl. Constant Viljoen met die doel om die Afrikaner se vryheid in ’n volkstaat te herstel. In 1996 het die party dit vermag om Artikel 235, d.i. die reg op territoriale selfbeskikking, in die Suid-Afrikaanse grondwet ingesluit te kry. Ander kulturele en geloof regte was ook in die grondwet ingesluit te danke aan o.a. die Vryheidsfront.

In 2008 het die party – onder ’n nuwe naam, nl. Vryheidsfront Plus (VF+) – lidmaatskap by die Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO) vir die Afrikaner bekom. Die   VF+ verteenwoordig tans die Afrikaner by UNPO.

Ofskoon die VF+ aanvanklik baie bygedra het tot die ontwikkeling van volkstaatgroeipunte, bv. Orania, het die party stelselmatig sy steun onttrek tot die punt waar hy sedert 2010 geen finansiële of adviserende bystand vir Orania bied nie. ’n Paar individue in die party lewer wel in ’n persoonlike hoedanigheid steeds ’n groot bydrae tot Orania se ekonomie en gemeenskap.

Die VF+ het in sy laaste paar verkiesingsveldtogte merkbaar afstand begin neem van die vryheidsideaal. In toesprake van die huidige Partyleier, dr. Pieter Mulder, kan opgelet word dat hy selfbeskikking op ’n akademiese wyse benader en dat daar geen dringendheid of passie by hom of die party se uitvoerende dagbestuur bestaan om werk te maak van die missie wat hulle veronderstel is om uit te voer nie.

Punt vir uitvoering van missie: 2/10

Uitbouing van ondersteunersbasis

In die 1994 algemene verkiesing het die Vryheidsfront, onder leiding van genl. Constant Viljoen, ’n totaal van 9 setels in die parlement verower nadat 424 555 (2,17%) kiesers vir die party gestem het. Die party se verkiesingsveldtog het gewentel om die verkryging van ’n volkstaat. Genl. Viljoen het in soveel woorde gesê dat die 1994 verkiesing ’n ideale geleentheid bied om wesenlike steun vir die volkstaat te bewys. Die party het dit vermag om ’n indrukwekkende getal vryheidsgesinde Afrikaners te oorreed om vir die Vryheidsfront te stem. Die vertrekpunt van die party se ondersteunersbasis kan dus beskou word as ten minste 424 555 mense.

In die 2009 algemene verkiesing het die VF+, onder leiding van dr. Pieter Mulder, slegs 4 setels in die parlement gewerf nadat 146 796 (0,83%) kiesers vir die party gestem het. Dit is ’n afname van 5 setels en 277 759 stemme sedert 1994. Insgelyks kon die VF+ in 2009 slegs 2 uit ’n moontlike 430 setels in alle provinsiale wetgewers wen, nl. Gauteng (1 setel) en Vrystaat (1 setel).

In die 2011 munisipale verkiesing het die VF+ vêrder teruggesak na slegs 66 588 (0,5%) stemme. Dit is ’n afname van  25 451 stemme in vergelyking met die 2006 munisipale verkiesing.

Die VF+ se gebrek aan uitvoervermoë, verouderde denke, die magsug van swak leiers, onduidelikheid t.o.v. hul missie en doelstellings en onproduktiewe binnegevegte is die prominentste sondebokke vir die agteruitgang van die party. Wat organisatoriese eensgesindheid net verder die nek inslaan, is die feit dat dr. Pieter Mulder sedert 2009 in pres. Jacob Zuma se kabinet dien as Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.

Dr. Mulder werk onder die direkte gesag van Minister Tina Joemat-Pettersson, die huidige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in die Noord-Kaap, terwyl die VF+ se grondwet pertinent stel dat “enige vorm van kommunisme verwerp word en met alle mag tot die beskikking van die Vryheidsfront Plus beveg sal word” (Artikel 18.2.2.6).

Die oorgrote meerderheid van Afrikaner kiesers beskou dr. Mulder se adjunkministerskap as ’n verraderlike alliansie tussen die ANC en die VF+. Die VF+ se onvermoë om sedert 2009 die Afrikaner kieser doeltreffend in te lig van sy leier se rol en betrokkenheid in die kabinet gaan waarskynlik lei tot die grootste nederlaag in die party geskiedenis tydens die 2014 algemene verkiesing.

Punt vir uitbouing van ondersteunersbasis: 0/10

Ontwikkeling en bevordering van die Afrikanerjeug

Die VF+ Jeug bestaan uit partylede tussen die ouderdomme van 16 en 35. Die huidige Jeugleier van die VF+ is mnr. Wouter Wessels, persoonlike assistent van dr. Pieter Mulder.

In vroeër jare het die VF+ gespog met ’n uiters dinamiese en doeltreffende Jeugstruktuur wat studenteraadverkiesings by die Universiteit van Pretoria (UP) vir meer as ’n dekade gedomineer het en ook groot suksesse behaal het by die Universiteit van die Vrystaat.

Onder leiding van mnr. Jan van Niekerk, wat in 2009 op ’n omstrede wyse verkies is tot Nasionale Jeugleier van die party, het die VF+ Jeug in 2010 vir die eerste keer in meer as ’n dekade die UP-studenteraadverkiesing verloor.

Dit is belangrik om te meld dat AfriForum Jeug, bestaande uit hoofsaaklik voormalige VF+ Jeuglede wat in 2009 bedank het na dr. Mulder die kabinetspos aanvaar het en mnr. van Niekerk tot Jeugleier verkies was, beide die 2010 en 2011 UP-studenteraadverkiesings loshande gewen het.

Die VF+ Jeug, steeds onder die onbekwame leierskap van mnr. van Niekerk, het in die 2011 UP-studenteraadverkiesing die vernerderendste nederlaag in sy bestaan behaal. Die party se Jeugstruktuur by dié universiteit staar tans ontbinding in die gesig.

Die grootste terugslag was egter die bedanking van hordes jeuglede sowel as Jeug Provinsiale- en Streekleiers na die hoogs omstrede 2011 Jeug Reorganisasievergadering te Pretoria, waar dr. Mulder se persoonlike assistent aangestel is as die Nasionale Jeugleier van die VF+. Hierdie lagwekkende situasie laat mens dink aan die gek Keiser Caligula wat eeue gelede sy gunstelling perd as ’n Romeinse senator aangestel het!

Die VF+ Jeug speel tans geen aktiewe rol in die ontwikkeling en bevordering van die Afrikanerjeug en hul politieke denke nie en lewer sedert 2009 min tot geen bydrae tot die vryheidsideaal nie.

Punt vir ontwikkeling en bevordering van die Afrikanerjeug: 1/10

Skakelwese op nasionale en internasionale gebied

Die VF+ se betrokkenheid by UNPO en teenwoordigheid in die RSA parlement stel die party in staat om te skakel met gesaghebbende rolspelers op nasionale en internasionale vlak. Die party se toegang tot hierdie rolspelers het al suksesse opgelewer, o.a. die voorgestelde naamsverandering van Pretoria na Tshwane wat tydelik gestuit is.

Die VF+ slaag daarin om internasionale steun te werf vir die Afrikaner, veral m.b.t. plaasmoorde, ras gemotiveerde misdaad en werkloosheid.

Die party misluk egter daarin om doeltreffend uit te reik na buite-parlementêre Afrikaner vryheidsbewegings en om duidelike doelwitte te stel m.b.t. die vryheidsideaal en dit dan uit te voer en op nasionale en internasionale forums te verkondig.

Punt vir skakelwese op nasionale en internasionale gebied: 6/10

Doeltreffendheid as binne-parlementêre opposisieparty

’n Politieke party se steun word by die stembus gemeet, dus is die invloed van ’n party in die parlement direk afhanklik van sy vertonings tydens verkiesings. Die VF+ is ’n minderheidsbelange party wat fokus op die Afrikaner en kan by implikasie nooit die meerderheid setels in die RSA parlement wen nie. Desnieteenstaande het die party deur die jare suksesse behaal, o.a. die buitelandse stemreg kwessie.

Met die oog op die party se missie om die Afrikanervolk se vryheid te herstel in ’n volkstaat onder ’n eie regering, is dit wel so dat die VF+ se LP’s as quasi-ambassadeurs van die toekomstige volkstaat moet optree en elke geleentheid moet ontgin om die vryheidsideaal in die parlement te bevorder. Die VF+ se 4 LP’s, nl. dr. Pieter Mulder, dr. Corné Mulder, mnr. Pieter Groenewald en adv. Anton Alberts, misluk in hierdie opsig maar behaal soms suksesse in ander gebiede.

Punt vir doeltreffendheid as binne-parlementêre opposisieparty: 6/10

Groot totaal: 15/50 (30% = druip)

Gevolgtrekking

Die VF+ is ’n sinkende skip en het die teelgrond vir ambisieuse beroepspolitici geword. Die vraag moet gevra word of die vryheidsideaal steeds ’n binne-parlementêre vryheidsbeweging benodig en indien wel, is die VF+ die regte keuse vir hierdie rol? Met betrekking tot die eerste deel van hierdie vraag is ek nog onseker, maar in antwoord op die tweede deel van die vraag bied ek uit persoonlike ervaring vir die leser ’n eenvoudige, eerlike en dawerende NEE!

Ek sal beslis ’n kruisie trek langs ’n doel gedrewe, dinamiese en effektiewe Afrikanervryheidsbeweging – die VF+ is dit duidelik nie. Julle sal my weer vir ure in die son sien staan op stemdag sodra ’n ordentlike binne-parlementêre Afrikanervryheidsbeweging tot stand gebring is. My stem en tyd is meer werd as bloot ’n kruis teen die ANC. Geen suur druiwe nie - gee my net iets om voor te stem dan praat ons weer!

Quintin Diederichs is ‘n sakeman van Orania en het in 2011 bedank as voorsitter van die VF+ Jeug op Orania, as Jeugleier van die VF+ Noord-Kaap en as lid van die VF+.