“Beslissing in die Karoo” deur Sebastian Biehl – ‘n Resensie

Posted on Januarie 12, 2012 by

2


Toe Sebastian Biehl sê dat sy boek uitgegee is, kon ek nie raai dat dit ‘n roman sou wees nie. Ek het ‘n bundel artikels oor die Afrikaner se vryheidstryd en internasionale posisie, of iets soortgelyk, verwag. Met verbasing het ek die klein skrif aangepak en begin lees.

Die boek het ‘n lang eksposisie waar uiteenlopende karakters aan die leser voorgestel word: Die ernstige student wat sy volk se vryheidstryd ernstig opneem en sy liberale meisie vir wie dit effens irriteer; lede van die boeregemeenskap van Standerton wat al meer onder wetteloosheid deurloop en verskillende standpunte daaroor het; die gewetenlose politikus wat voor niks stuit om Suid-Afrika volledig te transformeer nie; die mense van die Oranjerivierdorpie Eendrag, waar hard aan die herstel van Afrikanervryheid gewerk word. Later, wanneer die storie spoed optel, verstaan mens waarom die eksposisie so lank moes wees – slegs ‘n kort verwysing is dan genoeg om ‘n breë agtergrond op te roep en die verhaal sin te laat maak.

Die aksie begin wanneer Standerton se boere die reg in eie hande neem, maar as kriminele deur die polisie uitgeruik word. Dit word ‘n internasionale insident en bewys van Afrikaners se rassistiese houding. Wanneer die bejaarde swart oud-president deur ‘n blanke (eintlik net ‘n pion) vermoor word, is die gort gaar. Geweldpleging teenoor blankes en plundering van hulle besittings word alledaags en ‘n groot toestroming na Eendrag en die gebied tussen die Oranjerivier en die Weskus volg. Die gebied skei hom van Suid-Afrika af en ‘n uitputtende oorlog volg. Die verhaal van ‘n bedreigde volk en die talle persoonlike verhale van liefde, swaarkry, teleurstelling en oorwinning word vertel in ‘n aksiebelaaide vertelling wat die leser moeilik neersit.

‘n Paar algemene opmerkings: Bykans alle persone, organisasies en heelwat plekke word met skuilname benoem. Die verwysings is egter so duidelik, dat mens wonder of die regte name nie beter sou gewerk het nie. Hoewel die hoofkarakter se liefdeslewe struktuur aan die hele boek verleen, voer Mnr Biehl liefdestonele na nuwe hoogtes van kuisheid. ‘n Mens sou jou ook kon afvra of die teks nie effens hersien kan word om gebeure van die afgelope drie na vier jaar in ag te neem nie – ingrypende chirurgie is onnodig, maar ‘n paar wysigings kan die verhaal versterk.

Iemand het verwys na die “krag van ‘n scenario.” In “Beslissing in die Karoo” is ‘n scenario van ineenstorting en oorlog geskets, met ‘n raaiskoot van hoe Afrikaners dalk daarop sal reageer. As roman oortuig dit en as spanningsverhaal boei dit. As politieke dokument laat dit mens diep dink.

Bestel “Beslissing in die Karoo” direk van die skrywer – 073 164 9936. Skud op, want voorrade is beperk!