Om ‘n Suid Afrikaner, ‘n Europeër, Indiër, Chinees of wat ookal te wees! Dui dit op iets behalwe ligging?

Posted on Januarie 22, 2012 by

19


Populêre nasiebou krete plaaslik is “Ons is Suid Afrikaners!”of “Ons is ‘n reënboognasie!”asof dit van óns ‘n eenheid maak. Met ras, kultuur, taal en godsdiens verskille so groot, sou sulke uitsprake lagwekkend wees, was dit nie vir die erns waarmee die owerheid en liberale wensdenkers daarmee te koop loop nie.

Die erkenning van etniese verskille, en die skep van raamwerke ter beskerming en bevordering daarvan, is ‘n erkenning dat goeie heinings goeie bure maak! Daarenteen neig gemengde gemeenskappe nogtans vir soort om soort te soek, maar in die daaglikse tussengroepse skouerskuur lei interpersoonlike geskille maklik tot groepsgeskille en wrywing . Sulke probleme, in grenslose omgewings, kom universeel voor. Dit is nie uniek aan ons nie!

Denke, ten gunste van etnisiteit, is deesdae polities inkorrek, maar was korrek en polities korrek nie nog altyd in aparte heelalle gesetel nie?
Word verwarrende benamings soos “Suid Afrikaner” nie doelbewus geskep juis om die verskeidenheid te verdoesel nie?

Politici, en die etniese groepe wat deur hulle verteenwoordig word, het ‘n instinktiewe geneigdheid om te domineer en om beheer oor ander volke, en hul bates, te verkry. Hierdie empaaierbou neiging, maw roof in ‘n ander gedaante, kom van die vroegste tye af met ons saam.

Veralgemeende groeperings is volop maar misleidend. Neem Europa as ‘n voorbeeld. Ons weet, oppervlakkig, dat hulle uit ‘n verskeidenheid van ‘volke’ bestaan. Dat hulle ‘wit’ is en hoofsaaklik, in twee godsdiensgroepe verdeel is nl. protestant en katoliek, maar die benaming “Europeër” is eintlik niksseggend! Die persepsie van eenheid word geskep en sodoende gaan die verskille (en daar is baie) ongesiens verby!

Met die koms van die Europese Unie is die volksverskille, vir die eerste keer in ‘n lang tyd, duidelik onderstreep. Soveel so dat hul bestaansreg, as ‘n eenheid, nou in die gedrang is. Die unie is op ‘n vrywillige basis gevorm maar is sommige lede nog so gewillig?
Minder bekend is die ontevredenheid van etniese groepe in die Unie se lidlande, hulle is nie altyd alte onderdanig aan dié lande nie! ‘n Buitestander sien selde hierdie probleme raak.

In Indië, ‘n koloniale maaksel in ‘n erge graad, is die eeue oue kaste stelsel nou veilig verskans in ‘n gemeenskaplike grondgebied. Die mite van Ghandi se liberale utopië is bloot om die stille waters bolangs voor te stel maar etniese uitbuiting deur die dansende duiwel daar onder, floreer. Verskeidenheid, word ook hier, gerieflik geminag en onder die mat ingevee.

Maak die gemeenskaplike Suid Afrikaanse grondgebied nie maar ook van ons ‘n maklike prooi om uit te buit nie? Poog die Mandela-mite plaaslik ook nie maar net om ‘n waanbeeld van demokrasie en vreedsame naasbestaan te skep nie?

Chinese lyk dalk vaagweg eenders maar die onderlinge verskille is groot. China is ‘n gedwonge eenheid. Die moderne China is ‘n kommunistiese sameflansing en soos in die destydse Sowjet Unie, word ‘n hele paar deksels, baie stewig, op ‘n hele paar etniese kookpotte gehou.

Magsentralisasie het nou al tot die globale vlak gevorder en die groot stryd speel hom nou op die wêreldverhoog af! Kleiner en weerlose etniese groepe, gaan in die slag bly.Globale gebeure is die hoofnuus en etniese groepe haal slegs die hooflyne as hulle die ‘groot kokkedore’ irriteer. In die normale gang van sake is hulle onsigbaar. Hulle is nogtans daar!

Veralgemeende begrippe soos Suid Afrikaner, Chinees of wat ookal verdoesel bloot interne etniese verskille en gevolglik word ‘n soortgelyke oppervlakkige beeld, een sonder detail, soos dié wat ons van ander vorm, ook deur andere van ons gevorm.


‘n
Bewusmakingsknoop sal dus deurgehak moet word as ons die aandag op die ware situasie hier gevestig wil kry en as ons bondgenote in ons stryd wil vind.

Wat op die spel is, is óns, die etniese Afrikaners, se bestaansreg en reg tot eie grondgebied! Na die baie wat ons reeds prysgegee het asook dit waarvan ons, ten onregte en moedswilliglik, beskuldig word, volg ons nou ‘n roete wat, hoe ookal bekyk, regverdigbaar is. Soos wat ‘n pa ‘n huis vir die gebruik van sy gesin aanskaf, soos wat ‘n boer plaasgrond bekom en vir sy eie gewin ontwikkel, koop die Orania Beweging nou braak grond en ontwikkel dit terwille van ‘n onafhanklike toekoms vir ons, die Afrikaners. Die mikpunt, ‘n eie AFRIKANER REPUBLIEK!

Hier word ‘n nuwe en unieke benadering gevolg en ervarings en lesse, in hierdie proses geleer, kan en moet met ander belangstellendes gedeel word. Dit wat hier tot stand gebring word, is nie ‘n vyandige gebaar, nie maar iets terwille van óns oorlewing en óns toekoms, dit en slegs dit! Hierdie waarheid moet duidelik en ondubbelsinnig aan die groot klok gehang word.

Alleenlik vooroordeel en onkunde staan in die pad van die etniese Afrikanernasionalis vandag. Etnisiteit, in ‘n gekonsolideerde gebied, verteenwoordig lokalisering, maw die teenpool van globalisering.
Dit verseker groepsbeheer direk vanuit die groep en in ‘n bekwame en geletterde gemeenskap gee dit groter seggenskap en deelname aan al sy lede.

Etniese groepe kom dus tot hul reg en gedy, in ‘n gesofitikeerde en deelnemende gemeenskap. In so ‘n gemeenskap word magshonger politici in bedwang gehou.

Die ‘besware’ teen etnisiteit kom hoofsaaklik vanuit die geledere van die internasionale korporasies en hul regerings wat hul empaaiers instand wil hou en/of uitbrei. Die verduideliking, wat hulle gewoonlik aanbied, is dat etnisiteit die mensdom verdeel en isoleer.

Moet ons dan almal eenvormig dieselfde koers inslaan, en as dit dan die verkeerde koers is, saam oor die afgrond foeter? Verskeidenheid is dan juis die prima voorvereiste vir aanpasbaarheid en oorlewing! Waar elders kom verskeidenheid duideliker na vore as juis dié tussen die verskeie rasse en etniese groepe?

Die mens is in wese nuuskierig en sal altyd die wêreld anderkant die berg gaan verken.(“Die blou berg moet ek oor.” sê ‘n Afrikaanse liedjie tog.) Geografiese begrensing dwing mense soms wel tot isolasie. Geografiese begrensing was nie van toepassing op ons voorouers nie en is ook nie op ons van toepassing nie! Isolasie is dus nie ons voorland nie.

Vryheid is die doelwit en daar bestaan reeds ‘n vryheidspaadjie vir ons. Hierdie vryheidspaadjie, die een wat deur die Orania Beweging uitgekap word, is myns insiens, die enigste sinvolle opsie tot ons oorlewing. Dit is ‘n nou volhoubare roete tenspyte van (dalk danksy?) die baie lae basis waarop daar begin is.

Orania se vergrotende ondersteuningsbasis is te danke aan die positiewe en tasbare groei wat daar plaasvind. Soos wat die momentum toeneem word die aanvaarding van die Noord-Kaap, as ons toekomstige tuiste groter. Hier kan ons duidelikheid kry van wie en wat ons werklik is en van wat ons het om op voort te bou! Die teenpool is om in een of ander ‘Suid- Afrikaner’ kookpot te vervaag en te verdwyn.

Maak die regte keuse! Raak betrokke!