Grondaansprake, grondvergrype en Volkstaters!

Posted on February 28, 2012 by

16


Die vraag of ‘n individu of ‘n etniese groep die reg het om te woon, te werk, te leef en ‘n toekoms te bou, in die omgewing waarin hul gebore en getoë is, is oplaas waaroor grondkwessies eintlik gaan. Miskenning van dié reg kom op diskriminasie neer. Is daar omstandighede waarin so ‘n miskenning regverdigbaar is?

Soos wat ‘n woonhuis of plaas op een of ander stadium van hande verwissel, so verwissel beheer oor ‘n land ook. Geen etniese groep het nog ooit ‘n uitsluitlike en ‘n ewige aanspraak op enige gebied gehad nie! In die geval van gewelddadige oornames en/of onderdrukking, kan daar, deesdae, gebiedsregstellings wees.( Die Balkan bied ‘n paar voorbeelde hiervan aan).

Selfs met die billikste eise en aansprake moet daar ‘n vervaldatum wees. Sonder ‘n vervaldatum, spesifiek verwysend na historiese eise, sal alle migrasies nimmereindigend in trurat gegooi word. Dit sal sinloos wees.

Hoe bepaal mens ‘n vervaldatum vir so ‘n dispuut?( Supermoondhede soos die VSA besluit eensydig: Rooihuide se sê tel nie!) Is geboortedatums van bewoners, maw die onbetrokkenes, na so ‘n omwenteling dalk ‘n moontlike maatstaf? Kan vergoeding, bepaal deur ‘n onafhanklike buitestander, ‘n billike ontlontingswyse wees?( As voorbeeld. Die Nazi’s het ‘n etniese suiweringsproses op hul Joodse bevolking toegepas en die Duitse volk het later vergoeding, onafhanklik vasgestel, daarvoor betaal.)

Dispute re gebiedsaansprake is nietemin volop. Israel is ‘n land kniediep in so ‘n dispuut. Joodse vestiging in ‘Palestina’ was deur westerse moondhede goedgekeur, nie op ‘n basis van bestaande besitreg of van beskikbaarheid nie maar weens godsdiens gebaseerde sentimente. Met vestiging in hul nuwe staat het die Joodse setlaars ‘n etniese suiweringsproses begin en die Islamitiese bewoners verdryf . Gevolglik het die Midde Ooste een van die wêreld se voorste konflikgebiede geword.

‘n Hele gemeenskap Palestyne leef vandag in ballingskap en die Islamitiese wêreld eis die vernietiging van Israel. Sal daar ooit sprake van ‘n vervaldatum wees? Jong Israeli’s, daar gebore en getoë het tog geen wilsbesluit re die staat Israel gemaak nie. Vir die Palestyne weer, het die situasie onherroeplik verander. Sal die bannelinge ‘n ander vorm van vergoeding aanvaar? Dis te betwyfel. In ‘n martelaarsrol is daar baie politieke myle te kry, rede is nie ter sprake nie.

In die foute, daar gemaak, is daar vir ons, as volkstaters, baie lesse te leer!

Ons is reeds geslagte lank hier. Ons reg op hierwees behoort onbetwis te wees. Waar kom die vermetelheid uit Bantoe-geledere dan vandaan om ons hierdie reg te wil ontsê?

Alle historiese ‘aansprake’ is tog net dit, naamlik historiese aansprake. Ons kan die geskiedenis nie verander nie, slegs daaruit leer. Kom ons kyk in elk geval daarna, beginnende by wie die eerste hier was, ens.

Die Khoi-khoi en die San, as eerste bewoners, was nooit talryk nie maar nomade met ‘n groot wei en jagveld. Hul teenwoordigheid in enige gebied word slegs deur rotstekeninge bevestig. Dalk staanplek, vir so ‘n tydjie, na goeie reëns en volop wild maar met min tekens van permanente vestings.

Ons weer, is bloot ‘n toevallige uitvloeisel van ‘n verversingspos met geen vooraf beplande agenda nie. Ons het hier, as ‘n etniese groep ontstaan. Die proses was ‘n natuurlike een, ons het ingeburger geraak en deel van die landskap geword.Ons aansprake was nooit koloniaal nie!

Die Britte se aandeel hier, was om te koloniseer. Die Britse ryk in Afrika moes van die Kaap tot in Kairo strek. Diamante, goud en alle ander grondstowwe moes die eiendom van die Britse kroon wees.

Die Bantoe, op hul beurt,(nou met arrogante grondaansprake), het vlugtend suidwaarts beweeg (onderling was roof, moord en verdrywing van weiding aan die orde van die dag). Ons eerste ontmoeting met hulle was op die oosgrens, in die omgewing van die Visrivier.

Is hierdie inligting relevant tov die huidige demografie? Was grond, wêreldwyd, nie maar nog altyd ‘n tydelike staanplek vir spesifieke bewoners, bloot in ‘n spesifieke tydperk nie?

Met verskillende etnisiteite, in ‘n gemeenskaplike gebied, gebeur een of meer van vier dinge. Daar is of assimilasie, of verdrywing, of onderhorigmaking of gebiedskeiding. Plaaslik het die proses in verskeie vorms al kop uitgesteek. Finale ordening, tot die mate toe waarin ordes gefinaliseer kan word, is nog soek! Die prentjie kan en sal nog heelwat verander.

Waar staan ons as Afrikanervolkstaters in hierdie prentjie nou?

Grond is ‘n emosionele saak, rede en logika speel selde die hoofrol. Miskien moet ons, al dansende in die strate, die volgende begin dreunsing:

Viva viva. Volkstaters is nie vir onderhorigheid gebore nie! Viva viva. Volkstaters glo in vrye assosiasie en besluit self wie assimileerbaar is en wie nie! Viva viva. Wat ons wil hê is beheer oor ons eie sake op ‘n grondgebied onder ons beheer in die vorm van ‘n Afrikaner Republiek.Viva viva. Die grondgebied sal beslis nie gesteel word nie maar aangekoop word of deur onderhandelings bekom word. Viva viva! Harde werk sal ons die baas maak. Viva viva.

Ons is op leefruimte geregtig en ons eise is billik. Die trek het reeds begin en voor in die wapad brand daar reeds ‘n liggie. Sy naam is ORANIA!

Raak betrokke, hê deel hierin.