Deel 3 van Orania vrae en antwoorde: geloof en sosio-ekonomiese kwessies

Gepos op Mei 15, 2012 deur

35


Deel 2 het gehandel oor vraagstukke m.b.t. voorkoms en eiendom. In deel 3 bespreek ons geloof en sosio-ekonomiese kwessies.

1. Moet ek ‘n Christen wees om in Orania te bly?

Ja, Orania is die eerste groeipunt binne ‘n toekomstige volkstaatgebied vir Afrikaners wat op ‘n Christelike grondslag ingerig word. Orania is wel nie voorskriftelik oor die denominasie nie. Dit is ‘n belangrike punt wat mense moet verstaan. Ons is geen sekte-dorp wat net een kerkgenootskap toelaat nie, hier is enige soort kerk en as mense voel dat hulle om watter rede hulle godsdiens buite kerkverband wil beoefen is dit ook aanvaarbaar. Die dorp meng nie in in mense se persoonlike verhouding met God nie.

Die Christelike beginsel van Orania is onderliggend aan ons hele strewe, al besef ons dat ons ons tekortkominge het en dat ons nie altyd leef soos wat dit ‘n Christen betaam nie. Die Christelike aard van Orania vind sy vergestalting in baie lae misdaad, beleefdheid van mense teenoor mekaar, omgee vir mekaar, maatskaplike hulp, die aanspreek van gesinsprobleme en die voorkeur vir stabile gesinne.

Dit gesê, vind hier ongelukkig ook dinge plaas wat nie tot eer van God is nie maar wat ons in gemeenskapsverband oplos en waar vir mense altyd ‘n tweede of selfs n derde kans gegee word. Eers as laaste uitweg word herhaaldelike oortreders gevra om die gemeenskap te verlaat.

2. Hoekom is daar so baie verskillende kerke op Orania?

Party mense het die verwagting dat daar waar almal Christene is, almal aan een kerk moet behoort. Alhoewel ons almal wat Christus bely “die kerk” is, is daar denominasie verskille, soos wat mense verskil in hulle klem op sekere dinge in die kerk.

Mense wat Orania toe kom, is meesal reeds lidmate van bestaande kerke en wil graag in Orania in dieselfde kerk voortgaan. As hier net een kerk was, dan sou dit daartoe lei dat talle mense, omdat hulle met sekere goed nie saamstem nie, of nie van die predikant hou nie, glad nie kerk toe sal gaan nie.

Die verskeidenheid kerke in Orania is nie groter nie as in ander dorpe ook. Ons moet die tendense wat die afgelope dekades in Afrikanergeledere plaasgevind het ook hier verreken en kan nie meer van die ideaal uitgaan dat alle Afrikaners aan een (gereformeerde) kerk behoort nie.

Soos wat kerk verdeling plaasvind oor dikwels onnodige dinge (alhoewel ander dit as kernbelangrik beskou), is daar wel ook pogings om mense op godsdiensterrein bymekaar te bring, soos interkerklike bidaksies of die Maranatha-kerk wat alle pinkster- en charismatiese kerkgenootskappe in een gemeente saambind. Iets soortgelyk in die gereformeerde tradisie ontbreek ongelukkig nog.

3. Hoekom is daar sigbare armoede in Orania?

Ons moet aanvaar dat sowat 20% van die Afrikaner bevolking as arm geklassifiseer word. Die redes is goed bekend en het veel te doen met die diskriminasie op werkterrein weens “regstellende aksie” na 1994, en ook met die transformasie in die ekonomie waar al hoe minder handewerkers en al hoe meer hoogs geskoolde spesialiste benodig word.

Elke dorp en stad in Suid-Afrika het sy deel waar die armer Afrikaners bly. In die groot stede is armoede gewoonlik in sekere dele gekonsentreer en die hoër middelklas mense sien armoede nie in hulle woonbuurt nie en vergeet dus dikwels dat dit bestaan.

In ‘n klein gemeenskap soos Orania, waar ons armes juis nie soos in die apartheid-tyd iewers agter ‘n koppie wegsteek nie maar waar hulle dele van die gemeenskap is en hulle bydrae as gerespekteerde werknemers lewer, is mense wat arm voorkom meer sigbaar. Dit beteken egter nie dat Orania arm mense trek of in verhouding meer arm Afrikaners het as ander dorpe en stede nie.

4. Hoekom bou Orania se organisasies soos Orania Dorpsraad en Orania Beweging nie op groot skaal goedkoop huise vir die arm Afrikaners wat tans in plakkerskampe rondom stede soos Pretoria woon nie?

Die mense wat nie die vorige vraag vra nie, vra dikwels hierdie vraag. Hulle is pynlik bewus van die plakkerskampe met arm Afrikaners rondom stede en dorpe.  Die redenasie is dat Orania mense nodig het en dat dit vir middelklas mense met hulle gevestigde lewe en goed betaalde werk wat hulle in die stede vashou, nie maklik kan skuif nie, dus kan derduisende arm Afrikaners uit plakkerskampe in die volkstaat hervestig en opgehef word.

Orania kan op beperkte vlak vir arm Afrikaners ‘n heenkome bied omdat hier werk vir hulle is, maar ons kapasiteit is heeltemal te klein om groot getalle Afrikaners te vestig, wat beteken daar moet gratis behuising en moontlik nog kos en werk aan hulle voorsien word.

Mense moet hulle selfstandig vestig en verkieslik selfonderhoudend wees. Orania is slegs ‘n klein gemeenskap en die dorpsraad se fondse is beperk en word benodig vir die gewone funksies van ‘n munisipaliteit, naamlik om te administreer en die infrastruktuur te onderhou.

Die Orania Beweging funksioneer as lede organisasie en loods wel projekte om gesubsidieerde behuising te skep. Die Helpsaamfonds van die Orania Beweging is uitsluitlik gemoeid met maatskaplike sake, waaronder ook die daarstel van  “oorgangshuise” vir mense wat met niks hier aankom en eers op die been gehelp moet word.

Tans is die Nerina-woonstelle in aanbou wat spesifiek vir enkelvroue bekostigbare behuising bied, soos wat Elim, wat ook al met allerhande bydrae uit die gemeenskap verbeter en vergroot is, dit vir mans doen.

Ook die kerke doen hulle deel. Om egter gesubsidieerde behuising vir derduisende Afrikaners daar te stel is eerstens nie tans moontlik met ons beperkte bronne nie, en sal tweedens meer probleme skep as oplos. Armes kan nie die grootste deel van ‘n gemeenskap wees nie, anders verval die gemeenskap en trek die middelklas, wat die ruggraat van ‘n samelewing is, weg. Ons sien die onvolhoubaarheid juis in die plakkerskampe, waar armes gekonsentreer is.

Verder is Orania se hoofdoel ook nie die ophef van armes nie (dit doen ons wel in die proses van vestiging van ‘n beter samelewing) maar die skep van ‘n Afrikanerstaat. As daar vorentoe ‘n Afrikanerstaat is wat sy eie belasting kan hef, kan daar ook meer vir armes gedoen word.

Ons glo egter nie aan ‘n welsynstaat wat armoede subsidieer nie, maar daaraan dat mense hulleself uit moeilike omstandighede oplig deur harde werk. Orania bied genoeg geleenthede vir iemand wat wil werk. Wat mense daarvan maak hang egter van hulleself af.

 5. Hoe oorleef mense en maak hulle ’n bestaan op Orania?

Soos in die vorige vraag behandel is hier werk vir mense wat wil werk. Salariswerk se inkomste moontlikhede is egter beperk omdat ons nog ‘n klein gemeenskap met betreklike lae omset is. Nogtans is niemand werkloos wat wil werk nie.

Die beste is egter om self werk vir jou (en selfs vir ander) te skep. Ons het entrepreneurs nodig en hier is talle voorbeelde van besighede wat nuut geskep is en wat goeie geld maak. Juis by ‘n groeiende gemeenskap is daar altyd ‘n behoefte aan nuwe dienste en besighede.

Mense doen letterlik enigiets op Orania. In die begin was dit veral landbou en verwante bedrywe omdat ‘n plaas aangekoop en as besproeiings hoewes ontwikkel is. Orania is in ‘n landboustreek geleë en water vir besproeiing was volop.

Enkele klein nywerhede is ook gevestig en natuurlik ook winkels en basiese dienste. Soos wat die dorp uitgebrei het, het besighede vergroot, nuwes is gevestig, meer dienste was nodig.

Die daarstelling van die Ora as plaaslike geldeenheid het ook gehelp, want op hierdie wyse is inwoners aangemoedig om hulle geld eerder plaaslik te spandeer en daardeur is weer inisiatief vir meer besighede en dienste geskep.

In die laaste tyd het die Orania Dorpsraad sy kapasiteit vergroot en heelwat nuwe aanstellings gemaak. Ook die skole stel meer personeel aan soos hulle uitbrei. Die volgehoue bou van nuwe huise het ook die boubedryf sterk laat groei. Die toerisme industrie bars uit sy nate uit met die uitbreiding van die nuwe hotel, nuwe restaurante, meer chalets en gastehuise. Gevolglik word al hoe meer mense in hierdie sektor in diens geneem.

Daar is egter ook meer en meer hoogs geskoolde mense wat met rekenaars en die internet werk en hulle programmering of stelselinstandhouding vanaf Orania doen. Hier is ook ’n toenemende getal sakemanne wat internetgebaseerde besighede vanaf Orania bestuur. Daar lê beslis groot geleenthede oopgesluit, veral met die verbetering van die dorp se internet-infrastruktuur.

About these ads
Posted in: ORANIA NUUS