Deel 3 van Orania vrae en antwoorde: geloof en sosio-ekonomiese kwessies

Deel 2 het gehandel oor vraagstukke m.b.t. voorkoms en eiendom. In deel 3 bespreek ons geloof en sosio-ekonomiese kwessies.

1. Moet ek ‘n Christen wees om in Orania te bly?

Ja, Orania is die eerste groeipunt binne ‘n toekomstige volkstaatgebied vir Afrikaners wat op ‘n Christelike grondslag ingerig word. Orania is wel nie voorskriftelik oor die denominasie nie. Dit is ‘n belangrike punt wat mense moet verstaan. Ons is geen sekte-dorp wat net een kerkgenootskap toelaat nie, hier is enige soort kerk en as mense voel dat hulle om watter rede hulle godsdiens buite kerkverband wil beoefen is dit ook aanvaarbaar. Die dorp meng nie in in mense se persoonlike verhouding met God nie.

Die Christelike beginsel van Orania is onderliggend aan ons hele strewe, al besef ons dat ons ons tekortkominge het en dat ons nie altyd leef soos wat dit ‘n Christen betaam nie. Die Christelike aard van Orania vind sy vergestalting in baie lae misdaad, beleefdheid van mense teenoor mekaar, omgee vir mekaar, maatskaplike hulp, die aanspreek van gesinsprobleme en die voorkeur vir stabile gesinne.

Dit gesê, vind hier ongelukkig ook dinge plaas wat nie tot eer van God is nie maar wat ons in gemeenskapsverband oplos en waar vir mense altyd ‘n tweede of selfs n derde kans gegee word. Eers as laaste uitweg word herhaaldelike oortreders gevra om die gemeenskap te verlaat.

2. Hoekom is daar so baie verskillende kerke op Orania?

Party mense het die verwagting dat daar waar almal Christene is, almal aan een kerk moet behoort. Alhoewel ons almal wat Christus bely “die kerk” is, is daar denominasie verskille, soos wat mense verskil in hulle klem op sekere dinge in die kerk.

Mense wat Orania toe kom, is meesal reeds lidmate van bestaande kerke en wil graag in Orania in dieselfde kerk voortgaan. As hier net een kerk was, dan sou dit daartoe lei dat talle mense, omdat hulle met sekere goed nie saamstem nie, of nie van die predikant hou nie, glad nie kerk toe sal gaan nie.

Die verskeidenheid kerke in Orania is nie groter nie as in ander dorpe ook. Ons moet die tendense wat die afgelope dekades in Afrikanergeledere plaasgevind het ook hier verreken en kan nie meer van die ideaal uitgaan dat alle Afrikaners aan een (gereformeerde) kerk behoort nie.

Soos wat kerk verdeling plaasvind oor dikwels onnodige dinge (alhoewel ander dit as kernbelangrik beskou), is daar wel ook pogings om mense op godsdiensterrein bymekaar te bring, soos interkerklike bidaksies of die Maranatha-kerk wat alle pinkster- en charismatiese kerkgenootskappe in een gemeente saambind. Iets soortgelyk in die gereformeerde tradisie ontbreek ongelukkig nog.

3. Hoekom is daar sigbare armoede in Orania?

Ons moet aanvaar dat sowat 20% van die Afrikaner bevolking as arm geklassifiseer word. Die redes is goed bekend en het veel te doen met die diskriminasie op werkterrein weens “regstellende aksie” na 1994, en ook met die transformasie in die ekonomie waar al hoe minder handewerkers en al hoe meer hoogs geskoolde spesialiste benodig word.

Elke dorp en stad in Suid-Afrika het sy deel waar die armer Afrikaners bly. In die groot stede is armoede gewoonlik in sekere dele gekonsentreer en die hoër middelklas mense sien armoede nie in hulle woonbuurt nie en vergeet dus dikwels dat dit bestaan.

In ‘n klein gemeenskap soos Orania, waar ons armes juis nie soos in die apartheid-tyd iewers agter ‘n koppie wegsteek nie maar waar hulle dele van die gemeenskap is en hulle bydrae as gerespekteerde werknemers lewer, is mense wat arm voorkom meer sigbaar. Dit beteken egter nie dat Orania arm mense trek of in verhouding meer arm Afrikaners het as ander dorpe en stede nie.

4. Hoekom bou Orania se organisasies soos Orania Dorpsraad en Orania Beweging nie op groot skaal goedkoop huise vir die arm Afrikaners wat tans in plakkerskampe rondom stede soos Pretoria woon nie?

Die mense wat nie die vorige vraag vra nie, vra dikwels hierdie vraag. Hulle is pynlik bewus van die plakkerskampe met arm Afrikaners rondom stede en dorpe.  Die redenasie is dat Orania mense nodig het en dat dit vir middelklas mense met hulle gevestigde lewe en goed betaalde werk wat hulle in die stede vashou, nie maklik kan skuif nie, dus kan derduisende arm Afrikaners uit plakkerskampe in die volkstaat hervestig en opgehef word.

Orania kan op beperkte vlak vir arm Afrikaners ‘n heenkome bied omdat hier werk vir hulle is, maar ons kapasiteit is heeltemal te klein om groot getalle Afrikaners te vestig, wat beteken daar moet gratis behuising en moontlik nog kos en werk aan hulle voorsien word.

Mense moet hulle selfstandig vestig en verkieslik selfonderhoudend wees. Orania is slegs ‘n klein gemeenskap en die dorpsraad se fondse is beperk en word benodig vir die gewone funksies van ‘n munisipaliteit, naamlik om te administreer en die infrastruktuur te onderhou.

Die Orania Beweging funksioneer as lede organisasie en loods wel projekte om gesubsidieerde behuising te skep. Die Helpsaamfonds van die Orania Beweging is uitsluitlik gemoeid met maatskaplike sake, waaronder ook die daarstel van  “oorgangshuise” vir mense wat met niks hier aankom en eers op die been gehelp moet word.

Tans is die Nerina-woonstelle in aanbou wat spesifiek vir enkelvroue bekostigbare behuising bied, soos wat Elim, wat ook al met allerhande bydrae uit die gemeenskap verbeter en vergroot is, dit vir mans doen.

Ook die kerke doen hulle deel. Om egter gesubsidieerde behuising vir derduisende Afrikaners daar te stel is eerstens nie tans moontlik met ons beperkte bronne nie, en sal tweedens meer probleme skep as oplos. Armes kan nie die grootste deel van ‘n gemeenskap wees nie, anders verval die gemeenskap en trek die middelklas, wat die ruggraat van ‘n samelewing is, weg. Ons sien die onvolhoubaarheid juis in die plakkerskampe, waar armes gekonsentreer is.

Verder is Orania se hoofdoel ook nie die ophef van armes nie (dit doen ons wel in die proses van vestiging van ‘n beter samelewing) maar die skep van ‘n Afrikanerstaat. As daar vorentoe ‘n Afrikanerstaat is wat sy eie belasting kan hef, kan daar ook meer vir armes gedoen word.

Ons glo egter nie aan ‘n welsynstaat wat armoede subsidieer nie, maar daaraan dat mense hulleself uit moeilike omstandighede oplig deur harde werk. Orania bied genoeg geleenthede vir iemand wat wil werk. Wat mense daarvan maak hang egter van hulleself af.

 5. Hoe oorleef mense en maak hulle ’n bestaan op Orania?

Soos in die vorige vraag behandel is hier werk vir mense wat wil werk. Salariswerk se inkomste moontlikhede is egter beperk omdat ons nog ‘n klein gemeenskap met betreklike lae omset is. Nogtans is niemand werkloos wat wil werk nie.

Die beste is egter om self werk vir jou (en selfs vir ander) te skep. Ons het entrepreneurs nodig en hier is talle voorbeelde van besighede wat nuut geskep is en wat goeie geld maak. Juis by ‘n groeiende gemeenskap is daar altyd ‘n behoefte aan nuwe dienste en besighede.

Mense doen letterlik enigiets op Orania. In die begin was dit veral landbou en verwante bedrywe omdat ‘n plaas aangekoop en as besproeiings hoewes ontwikkel is. Orania is in ‘n landboustreek geleë en water vir besproeiing was volop.

Enkele klein nywerhede is ook gevestig en natuurlik ook winkels en basiese dienste. Soos wat die dorp uitgebrei het, het besighede vergroot, nuwes is gevestig, meer dienste was nodig.

Die daarstelling van die Ora as plaaslike geldeenheid het ook gehelp, want op hierdie wyse is inwoners aangemoedig om hulle geld eerder plaaslik te spandeer en daardeur is weer inisiatief vir meer besighede en dienste geskep.

In die laaste tyd het die Orania Dorpsraad sy kapasiteit vergroot en heelwat nuwe aanstellings gemaak. Ook die skole stel meer personeel aan soos hulle uitbrei. Die volgehoue bou van nuwe huise het ook die boubedryf sterk laat groei. Die toerisme industrie bars uit sy nate uit met die uitbreiding van die nuwe hotel, nuwe restaurante, meer chalets en gastehuise. Gevolglik word al hoe meer mense in hierdie sektor in diens geneem.

Daar is egter ook meer en meer hoogs geskoolde mense wat met rekenaars en die internet werk en hulle programmering of stelselinstandhouding vanaf Orania doen. Hier is ook ’n toenemende getal sakemanne wat internetgebaseerde besighede vanaf Orania bestuur. Daar lê beslis groot geleenthede oopgesluit, veral met die verbetering van die dorp se internet-infrastruktuur.

35 gedagtes oor “Deel 3 van Orania vrae en antwoorde: geloof en sosio-ekonomiese kwessies

  1. baie dankie vir die inligting dit beantwoord baie van my vrae,is daar daar plotte beskikbaar om te huur of om te koop en wat is die pryse(huur of koop)
    byvoorbaat dank

  2. Gerhard Kotze

    Sebastiaan Biehl, gebore inDuitsland, vertel dus vir hierdie Afrikaner wie se voorgeslag kenmerkende rolle gespeel het in die Boere oorlog en o.a n groot rol gespeel het in die OoS-Vrystaat dat hy nie welkom in Orania is nie omdat hy nie Christen is nie.

    Neewat ou Sebastiaan jy sal nie besluit wie en wat n Afrikaner is nie en hoe en wat die Afrikaner moet aanbied nie. Jy klink nogal soos jou radikale outokratiese Nazi voorvaders. Onhou jy is in Duitsland gebore maar ek en my voorgeslagte is al meer as 300 jaar hier in Afrika.

    1. Gerhard, kan jy nie lees nie of is jy net deur die mis gebore? Nerens het Sebastiaan die Afrikaner gedefineer nie. Christenskap is die hoeksteen waarop ons volk en ook Orania gebou word. As jy ‘n probleem daarmee het dan stel ek voor jy hou op om jou heldhaftige voorvaders in die verleentheid te stel deur liewers jou eie idiotiese opinies vir jouself te hou.

    2. Gerhard, jou beledigings staan my nie aan nie. Ek skryf oor Orania soos wat dit is, ek is nie die burgermeester nie en nie eens op die keuringskomitee nie, dus is dit nie ek wat besluit wie toegeaat word en wie nie.
      Om die Nazi-teerkwas te beomei is laag en kinderagtig. Altyd die laaste uitweg van iemand wat geen argumente het nie. Vir die rekord was nie een van my voorgeslagte Nazis nie en ek is die eerste ou wat ‘n probleem het met Nazi-Afrikaners wat dink Orania is ‘n plek vir die superras.
      Moet ook nie te hoogmoedig wees oor jou 300 jaar se geskiedenis nie. Min van die huidge Afrikaners kan hulle lyn so vêr terug vervolg, en heelwat is maar eers 2 of 3 geslagte hier. Die Duitse komponent was nog altyd deel van die Afrikaner, en Kotze is juis ‘n Duitse van (en beteken toevalig “kots”). Hoeveel verraaiers se voorgeslagte was Boerehelde? Jou afkoms beteken minder as jou gesindheid. Om jare lank al te werk vir die volkstaat is meer werd as om in Suid-Afrika gebore te wees.
      Laastens, volgens jou definisie was een van die grootste Afrikaner, HF Verwoerd, ‘n Hollander want sy voorgeslagte het nie saam met Jan van Riebeek gekom nie.

  3. Gerhard Kotze

    Lees n bietjie hier: http://praag.co.za/content/view/5112/403/

    N Afrikaner is n Afrikaner PUNT. Ons kan nie in barbarisme verval nie. Elke Afrikaner moet welkom wees al is hy ook wat. Afrikaners kan nie ander Afrikaners wegjaag omdat hulle nie aan sekere kriteria voldoen nie. Van “gays tot liberaliste” is welkom al stem ek(en moontlik ander ook) nie altyd saam nie. Die Hugenote het na Suid-Afrika gekom om juis geloofsvryheid te beoefen…..

    Paul Kruger het selfs meer volwasse as julle daar by Orania opgetree. Ek volstaan met my mening dat Orania n groot aantal outokrate het wat hul eie sienings van Afrikanerskap op ander wil afdwing.

    Die staat(in hierdie geval Orania se sedebewakers) kan nie hul sienings op die massas afdwing nie. Ons kan nie van die “donkerte” van die NSA terugval na n ‘pikswart” toekoms in Orania nie. Ja, ek weet 900 mense bly lekker daar maar om n staat van duisende en selfs miljoene mense te bedryf is n perd van n jul ander storie….

    Die enigste kriteria is lojaliteit aan die staat (nasie-staat) en natuurlik die Afrikaner. Daar moet n eed wees vir nuwe burgers van Orania (en hopelik die nuwe staat) om lojaliteit te bevestig soos nuwe immigrante dit in Amerika moet doen. Laat ons nie in verkramptheid verval nie want ek begin amper dink dat F.W De Klerk se broer, Willem. reg was. Selfs Oom Paul sou vir julle klomp gelag het.
    .
    Nee, mense, dit is ware vryheid waarna gestreef moet word…

    1. Jou mening suig amper soveel soos jou kennis. Die Hugenote het geloofsvryheid binne die Christendom bepleit. Hul voorvaders het vir geslagte lank in Frankryk teen die Katolieke Kerk gestry en was op die ou einde verslaan deur die Vatikan nadat derduisende van hulle gebrand het vir hul geloof in Jesus Christus.

      Hulle het beslis nie idiotiese konsepte soos ateisme voorgestaan nie, so moenie die geskiedenis draai om by jou wanpersepsie van die werklikheid in te pas nie.

      Verder, wat is die kans dat Paul Kruger, ‘n dominee en republikeinse staatspresident, vir ons sou lag omdat ons ‘n Republiek, wat gegrond is op Christelike oortuigings, vir ons volk tot stand bring? Ek meen regtig – ou, jy leef in ‘n droomwereld!!

      Aan die eenkant beskuldig jy Orania van outokrasie, maar aan die anderkant probeer jy vir ons vertel presies hoe dit gedoen moet word. Punt is – met sulke argumente redeneer jy soos ‘n sot. Dalk kan jy dit nie help nie?

  4. Gerhard Kotze

    Laaste punt: Selfs nie eers Verwoerd, Malan, De Wet, Steyn, Strijdom en De La Reysou ongelowige Afrikaners en ander “ongewenstes” uit die Republiek van Suid-Afrika verban het nie. Waar het jy nou al ooit gehoor dat n Afrikaner uit Suid-Afrika gegooi is in die vorige eeu.

    Goeie genugtig! Ons moet begin dink soos staatsmanne en ware verligte mens!

    1. Swak punt… jy ken duidelik nie jou geskiedenis nie. Nog genls. De Wet en De la Rey, nog pres. Steyn het ooit die Republiek van Suid-Afrika geken of gesien in hul leeftyd.

      Breyten Breytenbach was ‘n Afrikaner wat verban was uit die RSA omdat hy met ‘n oosterse vrou getrou het. Daar is nog talle ander voorbeelde.

      Dis ‘n beter idee dat jy so spoedig moontlik moet ophou preek vir ander en self bietjie jou aandag daarop spits om ‘n “ware verligte mens” te word want op hierdie stadium kom dit voor of die ligte afgegaan het in jou wereldjie.

  5. Pieter Senekal

    Ek dink hierdie artikel is nie behoorlik oordink voordat dit geskryf is nie. Dit sè jy moet n christen wees om Orania toe te kom. Dan gee dit kenmerke van iemand wat n christen is, nl ” lae misdaad, wat beleefd is, omgee vir mekaar, maatskaplike hulp verleen. Daar is baie mense wat erkende nie christene is wat ook hierdie beginsels uitleef. Waarna ons moet streef is die Bybelse bedoeling van christenskap nl die Wedergeboorte. Wanneer jy jou sondes bely en laat staan en Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aanneem word jy n ware christen. Dit sal wonderlik wees as n staat net uit ware christene behoort, maar so iets het nog nooit bestaan nie. Orania sal dit ook nie wees nie. Daarom moet die staat God drie enig in sy grondwet bely en uitleef. Dit is dan die taak van die kerke om mense te evangeliseer.

  6. Gerdus

    Kom nou Quintin jy het nou al vele van my briewe gesensor. Moet nou nie soos Naspers se liberaliste raak nie. Hulle word mos kwaad as die waarheid begin uitkom. Vryheid van spraak is die heimat van die westers demokrasie. Ek was al baie met liberaliste(o.a. ook Afrikaner liberaliste) in politieke debatte (“straatgevegte”), o.a. ook Afrikaner liberaliste. Jy ttee net soos hulle op in my ondervinding. Onhou dat die klassieke liberalisme van vandag maar konserwatisme verteenwoordig. Die neoliberaliste is vandag se hedendaagse liberalisme.

    Onthou die ou Boere Republieke was volksdemokraties. Dus het jy nog ver om te gaan. Ek se weer: Niemand is uit die Republieke verjaag a.g.v godsdeiens nie. So ook is Breyten Breytenbach nie weens sy geloof verban nie en Paul Kruger het ook nie Joodse sinagoges in Pretoria, die hoofstad van die ZAR, afgebrand of verbied nie. Paul Kruger was n staatsman in murg en been.

    Jy kan my verban van hierdie blog maar jy kan nie alle Afrikaners uit die Voilkstaat verban nie. Alle Afrikaners sal welkom wees al stem ek nie altyd saam met wat hulle is nie. N Volksdemokrasie vir Afrikaners sal op liefde gevestig moet word. On smoet nie n nuwe muishond probeer wees nie. Die nuwe land moet gevestig word op vryheid en regverdigheid vir almal. Dit is die kenmerke wat n volk groot maak. Ek “preek” vir niemand nie. Ek gee my mening.

    jY IS VAN MENING DAT EK NIE KAN LEES NIE:

    “1. Moet ek ‘n Christen wees om in Orania te bly?
    Ja, Orania is die eerste groeipunt binne ‘n toekomstige volkstaatgebied vir Afrikaners wat op ‘n Christelike grondslag ingerig word. Orania is wel nie voorskriftelik oor die denominasie nie. Dit is ‘n belangrike punt wat mense moet verstaan. Ons is geen sekte-dorp wat net een kerkgenootskap toelaat nie, hier is enige soort kerk en as mense voel dat hulle om watter rede hulle godsdiens buite kerkverband wil beoefen is dit ook aanvaarbaar. Die dorp meng nie in in mense se persoonlike verhouding met God nie.
    Die Christelike beginsel van Orania is onderliggend aan ons hele strewe, al besef ons dat ons ons tekortkominge het en dat ons nie altyd leef soos wat dit ‘n Christen betaam nie. Die Christelike aard van Orania vind sy vergestalting in baie lae misdaad, beleefdheid van mense teenoor mekaar, omgee vir mekaar, maatskaplike hulp, die aanspreek van gesinsprobleme en die voorkeur vir stabile gesinne.
    Dit gesê, vind hier ongelukkig ook dinge plaas wat nie tot eer van God is nie maar wat ons in gemeenskapsverband oplos en waar vir mense altyd ‘n tweede of selfs n derde kans gegee word. Eers as laaste uitweg word herhaaldelike oortreders gevra om die gemeenskap te verlaat.”

    Sebastiaan impliseer dat net Christene welkom is. Ek weet van vele Afrikaners wat trots is op hul herkoms. Hulle is volksliewende mense en hulle is ook nie die “drek” van die aarde nie. Moet hulle dus hul eie Orania gaan stig?. Dit impliseer dat n toekomstig Volkstaat in dorpe ingedeel gaan word waar ander uit gehou gaan word……

    Maar nou ja. Jy kan my verban. Dit verander niks aan die werklikheid nie.

    1. Pieter Senekal

      Afrikaners was gewoond daaraan om ñ christelike regering te hè en volgens daardie beginsels regeer te word, daar was altyd geloofs vryheid. As jy sè Orania is net vir christene ontstaan die volgende vrae, 1) Hoe bepaal jy wie is, en wie is nie. 2) Daar bestaan verskillende menings, oor wat n christen is. Ens. Ek dink die Orania Beweginpg se amptelike standpunt moet geplaas word, sodat ons duidelikheid kan kry. Dit sal ook goed wees as Sebastian die saak kan opklaar.

    2. Kotze, jy dweep met jou eie standpunte en lieg blatant wanneer jy se dat jou skrywe gesensor word. Jou boodskappe waar jy jou spelfoute uitwys en regstel word wel verwyder omrede dit spasie opneem en nie ‘n bydrae tot die debat lewer nie. Voorstel: dink voor jy spel.

      Orania word op ‘n positief Christelike (nie ateistiese, islamitiese of buddistiese) grondslag ingerig. Dit beteken nie dat die gemeenskap teokrasie bepleit nie – dit beteken wel dat ons ‘n gemeenskap is wat glo in Jesus Christus alleen en nie skaam is om dit te erken nie. Orania Dorpsraad is nie voorskriftelik oor hoe mense hul Christenskap moet uitleef nie.

      Nietemin waarborg ek jou dat ek die eerste een sal wees wat emmers vol varkbloed op die grond sal uitstort waar iemand sou beplan om ‘n moskee op Orania te bou. Hier is nie plek vir Islam in Orania nie en sal ook nooit wees nie. Probleem?

      Wanneer mens die Islamitiese kultuur, wereldbeskouing, geloofsoortuigings en opinie van wat reg en verkeerd is (veral m.b.t. die vrou se plek in die samelewing) in ag neem, glo ek dat die oorgrote meerderheid Afrikaners nie ‘n probleem met my standpunt sal he nie.

      Wat jy voorstel sal die oprigting van ‘n Moskee op Orania aanvaarbaar en wettig maak. Verstaan vandag een ding baie mooi Kotze: oor my dooie liggaam!!

  7. Genugtig mense, julle ruk nou die dam onder die eend uit. Niemand word “verban” of “weggejaag” uit Orania nie, en hier is geen geloofspolisie nie wat jou kerk toe sleep nie. Net so min soos wat iemand wat sê dat hy nie van Afrikaners hou nie hier welkom is nie, net so min iemnad wat ‘n ateis is. Orania is ‘n gemeenskap wat gebou is op vrye assosiasie, maar as jy wil assosieer, dan moet jy ook die waardes van die gemeenskap aanvaar. Wat is die doel van Orania as dit ‘n plek vir almal is? Dan het ons mos net weer die nuwe Suid-Afrika, waar almal alles kan wees en waar niks ons saambind nie.
    Ons is reeds so oop as moontlik deur nie meer (soos by sekere regse organisasies gebeur) ‘n Afrikaner eng te omlyn en ‘n spesifieke denominasie voor te skryf nie. Die Christelike godsdiens is egter so fundamenteel deel van die Afrikanerdom dat dit daarsonder amper ondenkbaar is. Dit beteken nie dat ons van elke voornemende inwoner ‘n getuienis van persoonlike bekerning verwag nie, maar jy moet ten minste die breër christelike beginsels van Orania ondersteun, hoe en of jy dit uitleef is jou eie saak.

    1. Pieter Senekal

      Sebastian, dankie dat jy gereageer het. Ek verstaan jou redenasie nou beter, alhoewel ek nog verskille het. Ek is self n belydende christen wat baie bly sal wees as daar n suiwer christelike volkstaat met n teokratiese regering stelsel totstand kan kom. Ek weet egter dit is nie moontlik nie. Daarom sien ek net 2 moontlikhede. 1) Ons aanvaar alle Afrikaners en laat die kerke toe om hulle werk te doen. 2) Aanvaar slegs ware christen Afrikaners. Dit lyk vir my julle probeer n kombinasie van die twee. Aan die eenkant moet die naam christen behou word, maar die beginsels wat jy voorhou nl lae misdaad, beleefdheid, omgee en hulp verlening kan die meeste atieste hulle mee verenselwig. Hoekom is hulle dan nie welkom in Orania nie.

  8. Gerdus

    Sebastiaan

    As jy jou in die artikel verkeerd uitgespreek het dan is die saak reg en ek sien jy het verduidelik rakende die “verban” storie.

    jy het jou dus verkeerd uitgespreek en jy ondersteun geloofsvryheid as ek jou nou reg verstaan alhoewel die Christelike geloof die heimat sal wees.

    Kom ek vertel jou n kort storie: My Oom het in die 50s na Suid-Afrika gekom van Switserland. Hy moes gedurende die 2de Wereld Oorlog van Duitsland vlug. Hy was maar 5 en mense het hom en sy familie gehelp vlug na Switzerland. Hy is toe later met sy familie na Suid-Afrika. Die Afrikaner regering het ook Duitse wesies in Suid-Afrika toegelaat. So wat jy nie weet nie is dat ek n groot voorstander is van emigrante na Suid-Afrika (Of moet ek nou se Orania!). Nuwe bloed is altyd goed vir n volk soos wat baie Hollanders vir die boere was gedurende die Boere Republieke. Daar was bv. ook enkele Sweedse emigrante na die ZAR. Die invloed die van Hollanders, Duitsers en Franse in ons afkoms is goed bekend.Afrikaners is egter ook van Sweedse, Portugese, Italiaanse, Britse en Griekse afkoms. Inteendeel, ek dink emigrasie is belangrik indien ons wil oorleef i.t.v getalle.

    Niemand mag egter beluit hoe n Afrikaner gedefimieer moet word nie. n Afrikaner is n Afrikaner. So as jy dus erken dat jy geloofsvryheid ondersteun dan is die saak reg en dan vra ek jou omverskoning as ek jou nie genoeg tyd gegee het om jouself beter uit te druk nie.

    Vryheid en geregtigheid oppad na vryheid!

    Terloops, dit lyk of iemand my wel verban het want my ander rekenaar wil nie werk op hierdie blog as ek n skrywe probeer plaas nie.

    1. As jy verban was dan sou geen van jou plasings verskyn het nie – ongeag van watter rekenaar jy dit af stuur. As jy dink dat ons vryheid van spraak verbied dan het jy ‘n wanpersepsie van wie en wat ons is…

    2. Beste Gerdus,

      dankie vir die regstelling. Dan verstaan ons mekaar nou reg. Ek steun al lankal die standpunt dat iemand wat ‘n Afrikaner wil wees, een is, ongeag sy of haar afkoms. In praktyk is dit wel in die meeste gevalle mense wat Afrikaans praat, wit is en Christene is. Dus die algemeen aanvaarde idee wat ander volke van ‘n Afrikaner het. Daar is egter nie ‘n vereiste om so te moet wees nie.

  9. Gerdus

    O ja, net n laaste punt:

    Ek is nie eers n Ateis nie. Kerk en staat moet van mekaar geskei word. Ons het mos nou al gesien wat gebeur as die kerk n sekere “party in gebed” word. Die feit dat verskillende dominasies togelaat word is derwalwe n stap in die regte rigting. Net soos die ou Boere Republieke is ek egter ook deur die Franse/Amerikaanse revolusie en vryhede beinvloed.

    George Bush het eenkeer in China besoek afgele waar Christene aanbid. Die Christene daar sukkel maar om erkenning te kry en hulle moet dikwels ondergronds funksioneer…..Dus moet ons alle Afrikaners toelaat sodat die Kerke hul werk kan doen.
    .

    1. Waar, maar ons sien die ander uiterste deesdae in talle lande, wat mynsinsiens baie erger is, naamlik as die staat enige godsdiens en verwysing na God verban. Kyk watter euwels is nou algemeen in Suid-Afrika sedert dit ‘n hiper-sekulêre staat geword het. Die VSA het vir my (ten minste in die onlangse verlede, voor Obama) die regte benadering gevolg: skeiding van staat en kerk, maar nie verbanning van God uit die openbaar nie. Leiers erken nog steeds hulle onderhorigheid aan God en dit word ook in die openbaar bely, sonder om aan een spesifieke denominasie of interpretasie onderworpe te wees nie.

  10. Gerdus

    Terloops

    Hendrik Verwoerd was n Afrikaner maar hy het nie besluit wat n Afrikaner moet wees nie so ek sluit om nie uit nie want ek is juis inklusief. Verwoerd was een van die groot Afrikaners so waarom sal ek hom nou wil uitsluit?

  11. Gerdus

    Jammer maar ek moet n laaste punt maak. In die ou ZAR was een van die Presidente n soort “Liberale Republikein”. Pres. Burgers was so n leier. Alhoewel hy in sekere opsigte liberaal was, was hy altyd n Afrikaner (of n boer). So ons moet dus altyd beleeft ander, soos liberaliste, probeer wen vir die saak. Vandag staan Afrikaner liberaliste meestal gekant teen die saak van vryheid of n Republiek. Kom ons probeer hierdie mense ook aan ons kant kry soos gedurende die tydperk van die ZAR. Afrikaners wat nie tans aan die saak van vryheid werk nie is nog steeds AFRIKANERS weens hul afkoms.

    Indien die volkstaat eendag na wense uitbrei gaan ons hierdie mense nodig he. Ek hoop nie ons ervaar dan n soort “Palestynse” stryd waar Fatah en Hisbolah mekaar begin aanvat nie……

    Hiermee se ek nie dat ons dinge presies soos in die Boere Republieke moet doen nie.

  12. Gerdus

    Volksgenote, hier is n insiggewende artikel oor die Afrikaner. Dit lyk my Thys Human, n selferkende ateis wat n volkstaat ondersteun, en Christo Landman al in n debat was rakende geloof en die volkstaat:

    http://praag.co.za/menings-magazine-196/briewe-magazine-230/8687-godsdienstige-fundamentalisme-sal-ons-einde-beteken.html

    In hierdie skrywe word onder ander melding gemaak van “seker persoonlikhede” wat die Afrikaner se saak skade aandoen. Mense wat met hul volksgenote beklei en dan sekere dinge wil afdwing soos dat “homoseksueles”, “Ateiste” en “volksverraaers” die doodstraf sal kry en dat die pers gesensor sal word. Hulle definieer ook dat net mense van Wes-Europese afkoms Afrikaner, Boere-Afrikaners, of Boere is. Ens, ens. sekere van hierdie persoonlikhede (Ek weet van een daar by die VVK) se denke sal dan daarop neerkom dat ou arme Thys nie welkom sal wees in die volkstaat nie.

    Wat dan van Afrikaners met Sweedse vanne soos Lindeque? Swede is nie eers deel van Wes-Europa nie!. Dit is dan deel van Skandenawie!.

    1. Is Lindeque nie ‘n Franse van nie? Buitendien is Skandenawie deel van Wes-Europa. Ek sou eerder ‘n van soos Calitz as voorbeeld gebruik het want dit is van Oos-Europa afkomstig (Poolland).

      Tog bly die punt staan dat nerens in hierdie artikel aangevoer word dat ‘n Afrikaner so of so is of moet wees nie. Ek verstaan dus nie waarom jy argumente probeer aanknoop wat oor die definisie van Afrikaneridentiteit gaan nie. Jy het dit dan self gese: ‘n Afrikaner is ‘n Afrikaner.

      Mens hoef nie ‘n Christen te wees om ‘n Afrikaner te wees nie. Die vraag is of ‘n uitgesproke nie-Christen Afrikaner uit vrye wil deel van Orania se gemeenskap WIL word. Die antwoord is nee, dus forseer ons sulke mense nie om hier te kom bly nie en beklemtoon ons die feit dat ons nie gaan verander sodat sulke mense hier sal wil intrek nie.

      Dink jy dat ‘n uitgesproke anti-Jood wat van Joodse afkoms is ooit in sy lewe gelukkig sal wees om in Israel te bly?? Elke keer as hy sy land se naam noem of na sy landsvlag kyk gaan hy van die Jodedom herinner word. Israel soek nie sulke mense nie.

      Sou dit nie dalk beter vir jou familie gewees het as jou oom vir ‘n paar jaar in Switserland aangebly het en toe eerder Israel toe getrek het nie?

  13. Natuurlik kan jy ook ‘n Afrikaner wees sonder om ‘n Christen te wees. Daar is egter bitter min wat hulle Afrikaners noem en daarby ateiste is. Ek praat nie van “Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners” soos Jan-Jan Jubert, Piet Croucamp, Max du Preez etc nie, maar van Afrikaners, iets wat reeds implisier dat jy nie skaam is vir dit waarvoor die Afrikaner in sy geskiedenis staan, alhoewel ‘n mens ook nie elke aspek daarvan goedkeur nie. Daar was TF Burgers, soos Gerdus te reg noem, wat ‘n Afrikaner en ‘n vrydenker was, maar na
    Orania se strewe gaan egter oor meer as net die voortbestaan van die klank van Afrikaans. Ons is dus meer as ‘n soort permanente Afrikaanse kunstefees. Dit verg groot opoffeirng om van nuut af ‘n staat en samelewing te bou, en as dit nie van meet af op die regte fondamente gebou is nie dan sloof ons onsself verniet af. Soos iemand dit eendag treffend gestel het:”Dit help nie ons beywer ons vir ‘n Afrikanerstaat, net om die duiwel in Afrikaans te kan dien nie.”

  14. Daar laat ek die een sin onvoltooid> Daar was TF Burgers, soos Gerdus te reg noem, wat ‘n Afrikaner en ‘n Vrydenker was, maar na my wete was hy nie ‘n ateis nie, slegs iemand wat nie juis ‘n streng gereformeerde siening gehad het nie. Hy sou egter nie die bestaan van God ontken het nie.

    1. En hoe “gesog” was TF Burgers nie…

      Orania moenie wegskram van die feit dat sy onbeskaamd Christelik is nie. Die ateïste, agnostici en vrydenkers is welkom om vinger te trek en dit daar te stel waarin hulle glo, maar hulle moenie klaende “free riders” op ‘n Christelike poging probeer wees nie.

      Selfs al sou Orania teokraties wees, is elkeen wat nie daarmee saamstem nie, welkom om nie daarheen te trek nie.

      Die punt is “assosiasie”, of jy assosieer daarmee of nie en of die gemeenskap assosieer met jou of nie. Kom daaroor.

      Skakels na Praag beïndruk my lankal nie meer nie. As Dan Roodt en Anton Barnard so vas glo in hulle ideologie en strewes, dan kan hulle daaraan werk en ondersteuners daarvoor werf – die nie-Christene is dan welkom om daarmee te assosieer en daarheen te trek. Maar sover lees ek te veel daarvan en sien ek te min.

  15. Ek stem ook saam dat dit dwaas is om die volk so eng te omlyn dat net ‘n handjievol nog deel daarvan is wat dan net verder baklei oor wie nou deel is en wie nie, en om nou ‘n skeiding tussen “onsuiwer” Afrikaners en “suiwer” Boere te wil trek. Dit is egter ‘n klein minderheid wat sulke sienings het. My waarneming is dat die gemiddelde Afrikaner in die volkstaat in beginsel sal tuis voel, want hulle kan met die ideale en karakter saamleef. Die redes wat hulle verhoed om hier te kom woon is gewoonlik prakties van aard (finansies, werk, vriende en familie, bekende omgewing, gevestigde belange, geriewe ens).

    1. In die 4 jaar wat ek al by Orania betrokke is weet ek van net 1 Afrikaner wat blatant geweier het om by Orania Beweging aan te sluit a.g.v. geloof. Die dame is ‘n ateis en het geweier om deel van ‘n organisasie te wees wat pro Christenskap is. Ek weet egter van talle mense wat nooit by Orania Beweging sou aansluit as ons totale vryheid van geloof bepleit het, soos bv. dit wel die geval is by die DA en die ANC.

      Sebastiaan tref die spyker op die kop deur te meld dat mens nie ENG of te OOP moet wees nie. Die middelgrond is duidelik sigbaar op Orania. Diegene wat my nie wil glo nie is welkom om hier te kom woon en dit vir hulself te sien..

  16. Pieter Senekal

    Daar is ñ groot verskil tussen totale geloofs vryheid, soos wat die DA en die ANC dit het en geloofs vryheid, soos ons dit geken het ,in die ou SA. In die DA model is daar nie n christelike regering, erkening van God drie enig in die grondwet of christelike onderwys in die skole nie. Ek kan nie hierdie model ondersteun nie. Terwyl in die geloofs vryheid model al hierdie beginsels uit geleef word. Goeie Afrikaners wat, wat vir watter rede ook al nie christene is nie kan dan deel wees van die volkstaat, sou hulle bereid wees om onder ons voorwaardes in te skakel. Die kerke het dan geleentheid om hierdie mense te evangeliseer. My probleem met die huidige stelsel is hoe keur jy die christene? Dmv n oppervlakkige gesprek, of kyk jy na die persoon se lewe en of dit in lyn is met die voorskrifte vir n christen, soos voor geskryf in die Bybel. Deesdae is dit n soort status simbool om te sè ek is n christen, baie mense leef nie soos christene nie. Wat is die verskil tussen hulle en die wat eerlik is en sè ek is nie n christen nie.

  17. Michael

    Pieter Senekal wat sal die voorwaardes wees na aanleiding van wat jy hier voorstel;
    “Goeie Afrikaners wat, wat vir watter rede ook al nie christene is nie kan dan deel wees van die volkstaat, sou hulle bereid wees om onder ons voorwaardes in te skakel”

  18. Pieter Senekal

    Michael, met ” ons voorwaardes” bedoel ek dat hulle aanvaar dat ons n christelike regeering het, dat God Drie enig in ons grondwet erken word, dat ons christelike onderwys in ons skole het. As hulle dit aanvaar kan ek nie sien hoekom hulle nie deel van die volkstaat kan wees nie.

  19. Terugklingel: Deel 4 van Orania vrae en antwoorde: kultuur, erfenis en opvoeding. « Vry Afrikaner

Lewer kommentaar op Quintin Diederichs Kanselleer antwoord