Só bou ons ‘n volkstaat!

In hoeveel vergaderings het jy al gesit en hoop jy kry antwoorde op vrae oor die pad vorentoe? En daarna huis toe gery met die wete dat jy net nog ’n dawerende geskiedenisles gekry het? Ons almal is opsoek na oplossings, maar ongelukkig soek almal nie in die regte plek nie.

Ons hoor gereeld hoe ons mense kla dat Afrikaners nie kan saamstaan nie, dat ons nie ‘n leier het nie en dat niemand ‘n mandaat het om namens ons iets te doen nie. Volksorganisasies stry onder mekaar vir al wat hulle werd is om nog ’n ingeskrewe lid of twee te wen sodat hulle kan aanspraak maak op ’n mandaat wat hulle dan van Piet, Koos en Sannie gekry het om dit en dat te doen. Op die ou einde gebeur niks nie, behalwe dat ons dalk net nog ’n uitgerekte geskiedenisles kry om aan te kou op pad huis toe.

Die oomblik wanneer mense vir hulself ’n mandaat gee om iets konstruktief te doen verander die prentjie en begin dinge gebeur. Orania is ’n voorbeeld van wat bereik kan word sodra mense hul moue begin oprol en werk aan ’n, of eerder dié oplossing.

Dis die kort en die lank van Vry Afrikaner se modus operandi. Ons gaan sit om ’n tafel, stel ’n teiken, beplan ’n strategie en tref die teiken. Indien ons nie slaag nie dan kyk ons wat skeef geloop het, pas ons strategie daarvolgens aan – en tref die teiken.

Wat is die doelwit? ’n Onafhanklike Afrikaner Republiek waarin ons en die nageslag vry, vreedsaam, veilig en vooruitstrewend kan lewe. Hoe gaan ons dit kry? Ons moet ’n meerderheid word in die streek tussen die Oranjeriviervallei en die Weskus, dan stig ons af. Hoe doen ons dit? Skep werk vir Afrikaners in hierdie streek sodat meer mense hierheen kan trek. Hoe doen ons dit? Brei bestaande volkseie besighede in hierdie streek uit sodat meer Afrikaners hier in diens geneem kan word en nuwe ondernemings as gevolg kan ontstaan.

En hoe doen ons dit?

Maklik! Ons moet begin deur meer van ons produkte uit te voer – daar na markte waar die koopkrag tans lê sodat ons meer kan verkoop, dus meer kan vervaardig. Hoe meer ons vervaardig, hoe meer werk word geskep. So ontwikkel ons ’n ekonomie van skaal vanuit Orania.

Om die idee van ’n uitvoernetwerk te toets, het ons op Saterdag 29 September ’n tent by die Pretoria boeremark opgeslaan. Ons het ’n vol vrag Orania produkte opgery en dié verkoop aan Pretorianers. Daar was olywe, pekanneute, droëwors, biltong, koeksisters, konfyte, beskuit, kaas, gemmerbier ens. – als deur volkseie arbeid vervaardig op Orania. Ons het ook pragtige Orania toerisme brosjures laat maak en dit uitgedeel by die mark.

Wat het gebeur?

Ons Vry Afrikaner tent se omset was meer as 4 000 ora (1 ora = R 1) en ons het amper 900 ora wins gemaak. Binne slegs 3 werksdae na die mark het Orania Toere reeds 6 500 ora se vakansieverblyf in Orania verkoop aan Pretorianers danksy die brosjures wat ons uitgedeel het! Verder het ons twee nuwe aandeelhouers gewerf vir die winkelsentrum wat ons volgende jaar in Orania wil bou.

Dis ’n onbeskryflike gevoel om terug te keer Orania toe en vir die vervaardigers hier geld in hul hande te prop vir al hul kwaliteit produkte wat ons verkoop het.

Ons is op Saterdag 13 Oktober weer by Pretoria se boeremark en gaan hierdie keer nog meer produkte saamvat. Mense het spesifiek vir produkte gevra wat ons maklik kan maak met bestanddele wat ons op Orania vervaardig, bv. pekanneut gesondheidbeskuit, olyfbrood en kaas met olywe of pekanneute in.

Ons vat dan ook nog meer brosjures saam van Orania-gebaseerde toerisme diensgewers, eiendomsagente en selfs ons puik skole.

Dink nou vir ’n oomblik en maak die som. Veronderstel daar is elke Saterdag 10 Vry Afrikaner tente by 10 markte regoor suider Afrika. Elk van hierdie tente verkoop tussen 4 000 en 5 000 ora kwaliteit Orania produkte. Ons kyk dan na ’n omset van minstens 160 000 ora per maand!

Wat van al die kunstefeeste? Dink net wat die omset van ’n Vry Afrikaner tent by Aardklop of die KKNK gaan wees! Heng, volg net Fiësta en rig ’n tent op by elke fees of skou waar hulle elke week afsaal.

Ons het reeds ’n tak in Pretoria wat die Vry Afrikaner tent daar gaan bestuur. Die wins wat op die dag gemaak word gaan vir die mense wat hul tyd afstaan om ‘n paar ure op ‘n Saterdag die tent te beman. Vriende van Orania in die Oos-Rand gaan binnekort elke week ’n Vry Afrikaner tent by hul boeremark opslaan. Een van die bakkers op Orania is elke Saterdag by die Bloemfontein boeremark en ons het verneem dat vriende van Orania daar hom van nou af gaan help om sy stalletjie uit te brei. Alhoewel dit nie deel van die Vry Afrikaner inisiatief is nie, is dit steeds deel van die groter idee om ‘n sterk uitvoernetwerk vir Orania vervaardigers te vestig.

Dit was verbasend hoe geweldig positief die mense by die Pretoria boeremark gereageer het toe hulle sien ons kom van Orania af. Amper elke persoon wat verby ons tent gestap het, wou met ons gesels oor Orania. Mense het foto’s geneem van ons stalletjie en hul vriende gaan roep om ook te kyk.

Ons het selfs gehoor hoe daar op die luidsprekers afgekondig word dat mense na die Orania stalletjie moet gaan kyk. Toe Radio Pretoria uitvind dat ons mark toe kom, het Friedel ons gebel en regstreeks op die lug met ons gesels oor alles wat ons smous!

Ons het baie geleer in die proses, vernaam dat die woorde “Orania” en “Volkstaat” op hul eie verskeie betekenisse kan hê, maar sodra jy die twee woorde saamvoeg en mense iets kan gee om te proe, sien, voel of ruik dan begin hulle glo in die droom. Dan verstaan hulle waarom ons volkseie arbeid gebruik en volkseie grond uitbrei Weskus toe. Dan begryp hulle dat vryheid soveel meer is as die eie ek en my klein wêreldjie agter diefwering en alarms.

So gee ons vir onsself ’n mandaat om iets te dóén. Só help ons bou aan ons Orania Volkstaat!

Maak ’n verskil, raak betrokke: http://www.vryafrikaner.za.org

17 gedagtes oor “Só bou ons ‘n volkstaat!

  1. Anthony Schlemmer

    Benewens die produkte wat verkoop word, kan die bemarking van Orania wat daaruit spruit, onmeetbaar wees !

    Afrikaners, meer as ooit tevore soek uitkoms en verlossing vanaf dIe Nuwe SA. Dit is duidelik te bespeur soos vertel in die artikel.

    Maak julle reg, Orania gaan volbespreek wees die Desember vakansie !

  2. Staffieliefhebber

    Dit is presies net so, ‘n mens wil altyd hê ander mense moet iets doen, maar self doen ‘n mens min of niks. Dankie dat julle iets daadwerkliks doen, aan die einde van die dag is dit al wat ‘n verskil kan maak. Afgesien van die geld wat die stalletjies kan maak, is dit ook ‘n goeie bemarkingstaktiek om mense bewus te maak van Orania.

  3. Jaco

    Quintin, neem eers ‘n paar diep asemteue.

    Ek hou baie van die idee om die markte te pols om sodoende aanvraag te pols sodat ‘n vraag kan onstaan vir volkseie produkte. Alle oplossings het goeie ekonomiese omgewings nodig vir sukses.

    My vraag is egter of die bemarking gedoen word met Volkstaat = Orania (blyk so te wees vanaf die baniere op die foto) of as Orania = ‘n sprekende voorbeeld van ‘n pad na ‘n Volkstaat? Indien die eerste, is daar nie miskien ‘n gevaar in Volkstaat = Orania nie?

    Ongeag, alle sterkte met wat julle doen en met die aanpasbare metode wat julle volg.

    1. Jaco, goeie punt. Orania = ‘n fisiese boublok van die volkstaat. Presies hoe daardie Republiek uiteindelik op ‘n kaart gaan vertoon is nie nou ter sprake nie. Ons weet egter presies in watter streek ons besig is om ons vryheid vreedsaam en volhoubaar te herstel – en ons weet presies hoe om dit te doen.

      Ons is selfs gelukkig genoeg om presies te weet waar ‘n volkstaat nie gaan werk nie!

      Ons benadering mbt bemarking is juis so dat mense kan verstaan dat ‘n volkstaat nie net ‘n idee is nie, maar ook ‘n plek is binne konteks van die Orania-model. Is Orania ‘n volkstaat? Nee. Sou Orania vandag besluit om af te stig, sal dit dan ‘n volkstaat wees? Ja. Wanneer stig ons dan af? 🙂

      Jy sal verbaas wees hoeveel mense voel dat die volkstaat juis is waar Orania is, m.a.w. soos Orania uitbrei, so brei die volkstaat uit. Dit maak ook sin, want daar waar Orania is word Afrikaners bemagtig en word daar tasbare en sigbare realiteite op die tafel gesit wat die konsep van republikeinse volksvryheid (‘n volk se wil om ‘n besluit te neem en sy mag om daardie besluit dan uit te voer) konkretiseer en betekenis daaraan gee. Derhalwe het ons nie ‘n probleem met die “Volkstaat = Orania” benadering nie.

      1. Jaco

        Ek is seker van die dom soort.

        Ek wou weet of julle Orania = Volkstaat stel, nie asof ek ‘n voorstel gemaak het en vra of julle my voorstel goedgesind is nie.

        Eers maak jy my deurmekaar, “Is Orania ‘n volkstaat? Nee” en as afstigting gedoen word “Ja”. Orania is mos nog nie ‘n standhoudende geografiese entiteit nie, dit het hulp en uitbreiding nodig, dan nie?

        Klink vir my jy bevestig dat Orania = Volkstaat. “m.a.w. soos Orania uitbrei, so brei die volkstaat uit” en “die konsep van republikeinse volksvryheid … konkretiseer en betekenis daaraan gee.” Hoe Ha!

        Ek is wel bewus dat ek op die kantlyn staan en kommentaar op die spelers lewer wat besig is om iets te doen.

        Ek sou net se, versigtig om nie Orania = Volkstaat te stel nie, want indien dinge verkeerd loop dan is Volkstaat = Orania. Vir die wat wiskunde doen sal besef dat hierdie vergelykings nie standhoudend is nie.

    2. Quintin Diederichs

      Jaco,

      Jy vra die tipe vrae wat mens baie beter oor kan gesels om ‘n kampvuur! Die eerste antwoord kan in een woord opgesom word: beide. Die tweede antwoord kort bietjie vleis aan die been.

      Nee, daar is nie ‘n gevaar in “Volkstaat = Orania” nie solank ons almal verstaan dat wanneer ons van Orania praat, dan verwys ons nie na die dorp soos hy tans lyk nie. 10 jaar terug was Orania heelwat kleiner as die helfte van wat hy nou is. 20 jaar terug was hier skaars 50 mense. 30 jaar terug was dit ‘n waterwese spookdorp. Wanneer ons van Orania praat, dan praat ons van iets veel groter as ‘n groeiende Afrikanerdorp op die oewer van die Oranjerivier.

      Prof. Koos Malan het by vanjaar se Burgervergadering ‘n toespraak gelewer waarin hy verduidelik het dat taal ‘n fundamentele eienskap van kultuur is. Hy het die noodsaaklikheid van ‘n Afrikaanse stad beklemtoon, juis sodat die Afrikaner kultuur kan oorleef en ontwikkel. Sou die taal kwyn, is dit ‘n gegewe dat die kultuur sal afsterf en daarmee sal die droom van ‘n volkstaat vir die Afrikaner sneuwel omrede daar nie meer ‘n Afrikaner sal wees nie.

      As mens na ‘n stad soos bv. Kopenhagen kyk dan sal mens dadelik oplet dat byna alle onderwys en opleiding, godsdiens, handeldryf, media, sosiale interaksie, mediese behandeling, die howe, staatsdiensfunksies, sport, die kunste ens. ens. in Deens geskied. Kopenhagen vorm deel van die hartklop wat Denemarke, ‘n volkstaat, sy eie unieke karakter gee. Sou Kopenhagen bv. “verspaans” dan sal dit sonder twyfel die Deense kultuur en daarmee die karakter van die Deense volkstaat onherroeplik verander.

      Ek was self al in Cardiff en het gesien hoe die Walliesers besig is om die Walliese taal te laat herleef. Hul volksidentiteit en kultuur is besig om te versterk as gevolg daarvan. Nietemin, slegs 20% van alle Walliesers kan Wallies vlot praat, maar nou dat die taal weer op skool geleer word sal hierdie persentasie binne ‘n geslag of twee waarskynlik verdubbel. Tog kon alle Walliesers op ‘n punt in hul geskiedenis hul eie taal vlot praat… Die verengelsing van hul samelewing het daartoe gelei dat hulle byna hul taal en tot ‘n mate hul kultuur kwyt geraak het. Daar sal nog baie water in die see moet loop voor die Walliesers ooit ‘n volkstaat soos die Dene s’n kan he.

      Kom ons kyk na ons eie volk. Tradisionele Afrikaanse stede is besig om met rasse skrede te verengels en sal geheel en al verengels omrede Afrikaners geen mag kan uitoefen in daardie stede nie. In daardie stede sien ons dat Afrikaners hulself toenemend van hul tradisies en kultuur vervreem (bv. Afrikaners wat hul kinders in Engelse skole sit en na Engelse kerke toe gaan) omrede hulle deur omstandighede forseer word om aan te pas, soos die Walliesers gedwing was om aan te pas – en selfs die Afrikaners in Patagonie moes aanpas by die Argentyne.

      Laat daar dus geen twyfel hieroor wees nie: die poort na ‘n Afrikaner Republiek is deur ‘n Afrikaanse stad. ‘n Plek waar die Afrikaner, soos die Deen in Kopenhagen, deel is van ‘n gemeenskap waarin alles in sy taal gedoen word. In so ‘n gemeenskap is volksnasionalisme ‘n gegewe en is dit voor die hand liggend dat ons kultuur sal gedy. Orania is die enigste plek op aarde waar so ‘n stad besig is om te ontwikkel – daarsonder is ‘n volkstaat vir die Afrikaner nie moontlik nie en sal ons nooit vry kan wees nie.

      Orania is dus nie ‘n sprekende voorbeeld van ‘n pad na ‘n volkstaat nie, eerder die (letterlik) sprekende poort na die Afrikaner se volkstaat.

      1. Jaco

        Quintin, verwys asb na bg antwoord op Rozanne.

        “eerste antwoord kan in een woord opgesom word: beide” is ‘n teenstrydigheid as ek my wiskunde ken.

        “Prof. Koos Malan het by vanjaar se Burgervergadering ‘n toespraak gelewer …” en wat volg blyk sy boek se inhoud te weerspieel. Daar is tog ‘n baie belangrike aspek wat die “stadsontwikkeling” slegs ten dele kan bied, en dit is “skaal”. Veral “ekonomiee van skaal” en “ontwikkeling van skaal” wat belangrik is.

        Al die komponente soos hy voorstel moet beskikbaar wees in die regte samestelling. Ander stede het dinamies ontwikkel en is nie gedryf deur oorhoofse planne nie. Dit moet ‘n natuurlike proses bly. Wat wel beplan kan word is die omvang wat bepaal word deur vraag en aanbod.

        Vir die rede kan ek nie saamstem dat Prof Malan se rede maak dat Volkstaat = Orania is nie.

        Ek was ook al ‘n klein bietjie in die buiteland, maar ek sal myself nie kan beroep daarop om voor te gee dat ek al ‘n werkbare model daar gesien het wat hier “netso” toegepas kan word nie. Daar is baie dinge wat ons kan leer van ander, maar die uitdaging is nogsteeds om die regte samestelling vir ons situasie te kan bewerk.

        Ander stede en deelstate is slegs tot ‘n mate van toepassing en oortuig my nog nie van Volkstaat = Orania nie.

        Die feit dat dit nodig is om iets buite die bestaande natuurlike proses teen-Afrikaans vir Afrikaans te doen is so. Niemand stry nie. Dit is net nie ‘n bewys vir Volkstaat = Orania nie.

        Ek respekteer jou standpunt indien dit Orania = “poort tot meer” en nie Orania = “enigste poort tot Volkstaat as Volkstaat” nie.

        Persoonlik sal ek weer by julle gaan kuier en ook julle produkte koop. Verder sal ek ook getuig van die goed wat ek gesien het. Ongelukkig moet ek ook maar objektief bly en uitwys dat dit nie die enigste model is nie.

        Ek hoop van harte dat ander initiatiewe heelhartig deur Orania gesteun sal word, al is dit ‘n bietjie anders en al is dit op die voorstoep of in die agterplaas, of langsaan. Kom ons gee mekaar raad en neem ook raad aan, sodat ons op baie gebiede, geografies en anders, ons ideale op innoverende wyse doen en tot verskeidenheid wat alle profiele van behoudende Afrikaners kan akkommodeer.

      2. Orania moet beslis die poort na die Afrikaner se volkstaat wees! Alle ander Afrikaner inisiatiewe, gemik op onafhanklikheid maar met geringer verskille in benadering en uitgangspunt, moet in distrikte, aaneenskakelend met die dorp/stad Orania, aangepak word.

        Sou dit nie so gedoen word nie, sit ons met landswyd verspreide enklawes waar daar nie ‘n eendragtige verdedigingsmag tot stand kan kom en optree nie, waarin daar onnodige duplisering van infrastruktuur sal wees, waarin ‘n eenheidsfront, na buite, nie maklik stem sal kan dik maak en oortuig nie, waarin verdere isolasie verdere verwydering kan en sal bring.

        Die ideaal van desentralisasie van gesag is hier moontlik en dit maak dat Orania nie kern van die staat moet wees nie maar die kern waarom alles vorm moet kry.Hier het ons nou die geleentheid om ‘n sinvolle eenheid, met voldoende ruimte vir verskeidenheid, tot stand te bring, kom ons keer enige bekrompe of liberale faksie om, soos wat al tevore reeds gebeur het, ons as ‘n gemeenskap, te kaap.

        ‘n 1994 met sy eensydige oorgawe moet nie weer moontlik wees nie!

  4. Henri

    Nou is ons Kapenaars eers jaloers. Ons het geweldig baie feeste hier, van wyn tot, jy kan maar noem. bring jul produkte, jul brosjures, wat Orania kan verkoop, bring dit. Die Kapenaars het ook ‘n voortreflike koopkrag en ook daardie besondere behoefte aan ‘n Afrikaner volkstaat, as ek dit so mag noem.

  5. Andre de Kock

    Baie geluk Quintin-dit is ‘n puik stukkie werk-en goed geskryf!
    Ek het ‘n veiling elke Saterdag in Brakpan en sal met groot graagte julle produkte daar verkoop en bemark. Dis bietjie anders as by ‘n vlooimark. Ek neem die produk in die hand en promoveer en veil dit op. So kry dit almal se aandag. Ons vra 15% kommissie maar vir Orania sal ons dit kommissievry doen omdat daar vervoerkoste van julle kant betrokke gaan wees. Ek het stoorplek vir so ton nie-bederfbare produkte. Ek sou verkies om een sentrale kontakpunt-en een oorbetalingspunt te he.Kontak my gerus by a.dekock@medhold.co.za.
    My veiling is ook op Facebook by Veiling Pickers.

  6. Skote petoors, bravo, mag dit die begin van ‘n grootse bemarkingsveldtog wees!

    Daar is seker nie ‘n doeltreffender bemarkingswyse nie, nie net om produkte te verkoop nie, maar veral om Orania wyer bekend gestel te kry, as in die gesellige atmosfeer van ‘n landbouskou of kunstefees nie.

    Mense woon sulke plekke by, nie met aggressie nie, maar nuuskierig en koopgierig.

  7. Aaron

    Hello Quintin,

    have you thought about putting together gift baskets comprising a number of products from Orania. These could then be bought by supporters and given to friends and family at holidays such as Christmas. This would also be a good marketing activity for spreading the word about Orania and, for those buying the baskets, advertising their solidarity with the Orania Movement.

    Groete,

    Aaron

    1. Hello Aaron – great to hear from you again! Rozanne is very artistic and she started making such gift baskets and original Orania curio/gifts a few months ago. We revamped a section in one of our shops in order to sell these products off the shelve. Locals and tourists alike love the products and I agree with you that it is an excellent marketing activity. Do drop in for coffee next time you visit us and we’ll show you all the Orania arts and crafts.

  8. Net R 4000 omset, net R 900 wins, vir ‘n volle dag se werk? En om dan daardie bietjie in produsente se hande te gaan stop in Orania, kan net dink hoe ‘motiverend’ dit moet wees.

    Om besighede na die geoormerkte deel te probeer trek is als goed en wel, maar dit gaan werklose swartes ook trek, tien vir elke werklose blanke.

    Doen hierdie:

    Stel verkoopsverteenwoordigers (sales reps) aan op kommissiebasis, net soos op skoonheidsprodukte soos Avon se besigheidsmodel. Identifiseer winkeleienaars wat jul saak goedgesind is in daardie areas, en stuur die sales reps soontoe. Sodoende word Orania se produkte dan bykans oornag op massiewe grootmaat verkoop. Stalletjies is goed vir bemarking, maar nie vir die tipe omset wat julle nodig het nie.

    Ons beloer julle vanuit Europa, en dink dis hoog tyd dat julle nou na hoogste rat oorskakel.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s