Die uitdaging vir Orania is eenvoudig: skep meer en beter geleenthede vir Afrikaners om in groter getalle te hervestig. ‘n Baie klein minderheid is bereid om te trek net vir ‘n ideaal.
Ons is westerlinge en westerlinge dink verder as wat ons neuse lank is omdat ons ‘n bepaalde leefstyl wil handhaaf. Leefstyl kos geld en geld word verdien by die werk. Hoe beter die werksgeleentheid, hoe groter die wil om te trek. Dis hoe ons dink en dit gaan nie verander nie.
Die van ons wat sterk voel oor onderwerpe soos identiteit, kultuur en selfbeskikking is besig om eienaarskap te neem van ons ideale en dit uit te bou van idees tot tasbare werklikhede. Dit is ‘n kreatiewe en selfs progressiewe proses waarmee ons Orania se uitdaging aanpak en ons eindelik by soewereine vryheid gaan uitbring. Die volkstaat se trekfaktore moet sterker wees as die stootfaktore waarmee ons mense daagliks regoor die land moet saamlewe.
Waarmee is ons dan so besig in Orania?
Baie ontwikkelaars soos Ben de Klerk en die Jacobs-gesin fokus op behuisingprojekte. Die konstante tekort aan behuising in Orania skep deurlopend geleenthede vir nuwe ontwikkelaars om die mark te betree. Die skaal en vlak van estetika wat tans bereik word is iets om van te spog.
Wat die kommersiele sy betref sien ons ook ‘n groot transformasie wat tans plaasvind. Die asemrowende Oewerpark Vakansieoord van Andre en Karin Coetsee het die maatstaaf geword vir kommersiele ontwikkelingsprojekte in Orania. Die Coetsees het die koers aangedui en die standaarde geskep wat dien as inspirasie vir enige voornemende ontwikkelaar in Orania.
Die Laas familie het hul droom van ‘n eersteklas hotel- en spakompleks in Orania met lof verwesenlik. Hierdie multimiljoenrand ontwikkeling het Orania in ‘n hele ander klas geplaas en bygedra tot die dorp se status as een van die vinnigste groeiende dorpe in die Karoo.
Sarel Roets se nuwe avontuurpark en winkelsentrum by Stokkiesdraai is die grootste projek wat al in Orania aangepak is deur ‘n eienaar-ontwikkelaar. Stokkiesdraai lig Orania se voorkoms by ons ontvangsgebied en het talle werksgeleenthede geskep wat nuwe inwoners na Orania lok.
Die ou Karooplaas Winkelsentrum is nog ‘n multimiljoenrand projek wat in Orania se ontvangsgebied ontwikkel word. Die projek behoort eersdaags voltooi te wees en ek het die grootste waardering vir my maatskappy se aandeelhouers wat met my hande gevat het om hierdie projek ‘n werklikheid te maak. Ook spesiale dank aan Vry Afrikaner se lede wat bydra tot ‘n ontwikkelingsfonds wat aangewend word om projekte van hierdie skaal aan te pak.
Ja, ons het lanklaas geskryf want ons is besig. Ons klim in en help om Orania te omskep in ‘n modelstad van ons toekomstige volkstaat. Eers ignoreer hulle jou, dan lag hulle vir jou, dan veg hulle teen jou, dan wen jy. Ou Gandhi het seker nooit die vryheidsgesinde Afrikaner in gedagte gehad toe hy met hierdie wysheid vorendag gekom het nie, maar hoe toepaslik is dit tog nie op ons nie!
Hier volg ‘n paar foto’s van die vordering by Ou Karooplaas:
Alles ‘n groot stap in die regte rigting. Ek wil hoeka Desember maand vir ten minste ‘n week daar kom vakansie hou.
Ek is ‘n Boer in die Noorde wat groot simpatie het met wat my volksgenote , Afrikaners, in die Noordkaap besig is om te doen.
Ek wil graag meer weet oor die TREKPUNTE van Orania.
Daar is eers die SON. Hoever het julle gevorder met die opwekking van elektrisiteit uit sonenergie ? Is Orania al van die Eskom-net afgehaal ? Ek verwys ook na die ontwikkeling van brandstofselle om krag te stoor deur prof. Kristo Pienaar (Volksblad 10 julie 2014)
Verder is daar die Oranjerivier met baie WATER. Maar kan Orania onbeperk daaruit pomp ?
Daar is mos ook baie ander gebruikers stroomaf. En stroomop kan die verbruik ook toeneem.
Hoelank is die grens van Vluitjeskraal met die rivier of gaan dit ook aan die oorkant ?
Dan is daar GROND hoeveel ha. van Vluitjeskraal is bruikbaar vir land-en tuinbou. en Is daar ook reeds grond van aangrensende plase opgekoop ? Is daar minerale wat ontgin kan word ?
TOERISME: by die rivieroewer; die potensiaal lyk my beperk.. Orania is redelik ver van die stede.
SEKURITEIT.Dit behoort volksgenote van 65+ te trek om af te tree. Belangrik is dan dat krag vir verwarming en verkoeling goedkoop voorsien word. Meer inwoners sal die dienstverleningsektor stimuleer.
WESKUS : dit lyk vir my voorlopig ‘n droom te wees om vanaf Orania ‘n korridor tot aan die Atlantiese Oseaan , honderde kms, te skep.
Dankie vir die aandag..
Dis met groot trots dat ek hierdie skrywe van jou lees, Quintin.