Orania kom al ʼn lang pad. In 1991 is die eertydse spookdorp van Departement Waterwese deur prof. Carel Boshoff en sy ondersteuners en mede-stryders gekoop.
Dit was ʼn groot uitdaging om intrekkers vir die afgeleë en vervalle dorp te begeester en veral, daar te hou. Inkomstemoontlikhede moes geskep word, want gou was die spaargeld opgebruik.
Die voorloper van die Orania Beweging, die Afrikaner Vryheidstigting, het die aangrensende plaas Vluytjeskraal 272, sowat 2000 hektaar, toe nog ʼn stuk dorre skaapgrond, ʼn jaar later aangekoop. In die verloop van ʼn paar jaar is dit met harde werk en nog kapitale insette omskep in besproeiingshoewes wat aan voornemende intrekkers te koop aangebied is nadat ʼn hele pyplynnetwerk met Afrikanerarbeid gebou is.
Toe die plaas Vluytjeskraal ontwikkel was, meesal met pekanneute beplant, en alle persele eienaars gehad het, is deur Kamrolandskap Koöperasie (KLK), ʼn inisiatief van Oraniërs wat die grondgebied van Orania wou uitbrei met die oog op die vestiging van ʼn volkstaat, die volgende stap voorberei.
Die plaasgedeelte Masada teenaan Orania, sowat 150 hektaar, is bygekoop en as Ekopark geproklameer. Nie lank daarna nie, in 2004 en 2005, is twee groot plase, sowat 20 kilometer suid van Orania, Nooitgedacht en Biesiebult, deur KLK gekoop en bemark aan voornemende kopers. Dit het Orania se grondgebied meer as verdubbel en om en by 4000 hektaar is bygevoeg.
Orania se gemeenskap het al lankal met verlange gekyk na die plaas Vluytjeskraal Noord, direk teenaan Orania in die rigting van Hopetown, wat ʼn uitstekende byvoeging tot die Volkstaat in wording sou wees.
Die eienaar wou nooit so vêr kom om te verkoop nie, of die prys was onhaalbaar, maar in 2011 kon ʼn groep Oraniërs asook ondersteuners van buite bymekaar kom en ʼn aanbod maak wat aanvaar is. Dit was ʼn kort tyd wat die venster van geleentheid oop was en dit was vir Orania ʼn wonderlike geleentheid en waardevolle toevoeging van prima besproeiingsgrond met talle spilpunte, ʼn lang rivierfront, ʼn historiese plaasopstal en talle werkershuise. Volstoom is daaraan gewerk om die plaas verder te ontwikkel vir landbou, toerisme en woon.
ʼn Jaar of wat na die aankoop van Vluytjeskraal Noord het die bestuur van Orania egter die nuwe strategie aanvaar dat Orania nie net grond kan bykoop nie, maar ook sy infrastruktuur moet ontwikkel en verdigting moet toepas om meer mense, besighede en instellings in die bestaande dorp Orania, wat in ʼn klein stad moet ontwikkel, moet kan vestig.
Sowel Orania Beweging asook Orania Dorpskantoor het die strategie gedryf. Dit is nodig om meer werksgeleenthede te skep, ook vir mense wat in stedelike beroepe werksaam is. Dit beteken egter nie dat Orania nou geen grond meer aankoop nie. Daar moet voortdurend uitgebrei word.
Vanuit Orania het nog ʼn inisiatief gekom om grond by die Weskus te koop, die eindpunt van die beoogde volkstaatgebied. Dit bied weer nuwe geleenthede, soos energieopwekking, seetoerisme en die ontwikkeling van kuseiendom. Hoe meer mense en instansies aan die Orania-projek bou op verskeie fronte, hoe vinniger vorder ons.
Ek vertrou dit gaan goed Sebastiaan. Uitstekende artikel. Kort en kragtig.
Dankie. Waardering vir jou kommentaar. Gaan goed die kant.
Die voorgestelde wetgewing tov grond is blykbaar dat grond eers aan regering aangebied moet word en as hul nie belangstel aan swart persoon en as geen swart persoon belangstel dan eers kan dit aan blanke aangebied kan word. Hoe sou dit as dit werklikheid word, die uitbreiding van Orania se grondgebied raak ? Sou die dorpsraad bv. grond kan aankoop as entiteit en nie as sekere ras nie ?
Dis ‘n goeie vraag waarvoor ons nog ‘n antwoord moet vind. Tans het Orania genoeg grond, en as grond gekoop word, dan gewoonlik deur ‘n entiteit, nie persoon nie (wel nie die Dorpsraad nie, hulle beperk hulle tot die pligte van ‘n munisipaliteit).
Waar is die grond in die weskus? En is dit al gekoop? Het ‘n huis in Yzerfontein, wil weet hoe ver dit is…