Afrikaners wat glo dat selfbeskikking noodsaaklik is, het verskillende idees oor wat dit behels of hoe die pad daarheen loop.
Daar is twee vervlegte lyne waarlangs verdelings loop:
– Interne teenoor eksterne selfbeskikking, oftewel die vraag of kultuurregte binne Suid-Afrika voldoende is en of soewereine onafhanklikheid die mikpunt is.
– Uitoefening van selfbeskikking waar Afrikaners tans woon, of in betreklik onontwikkelde gebied wat met dié doel ontwikkel en bevolk word.
Die probleem is nie verskillende sienings nie, maar dat ooreenkomste deur verskille verdwerg word.
Die Suid-Afrikaanse bedeling maak nie voorsiening vir etniese verskeidenheid nie. Die “amptelike” Suid-Afrika bestaan uit ’n massa Engelssprekende individue. Hulle is toevallig oorwegend swart, maar hulle kulturele identiteit is ’n streng private aangeleentheid en word na-ure bedryf. Die besef dat dié bedeling kultureel noodlottig mag wees, bind ons saam.
Swart etniese groepe het nog ’n mate van erkenning. Die wet op tradisionele owerhede erken sekere etniese aspekte en verskans dit wetlik. Menseregte moet voorkom dat Afrikaners (soos ander Suid-Afrikaners) individueel veronreg word, maar daar is geen wetgewing wat gesamentlike optrede bemiddel nie. Daar is wel ’n uitdaging: Skep ’n werklikheid en vra dán erkenning. Die strewe word grondwetlik erken, maar die resultaat hang van onsself af.
Afrikaners het dus geen vorm van selfbeskikking nie. Nie intern nie en ook nie ekstern nie. Dit beteken dat enige seggenskap wat beding word, ’n deurbraak sal wees. Vir een Afrikaner sal formele gesag oor byvoorbeeld onderwys of veiligheid genoeg wees, of munisipale status vir Orania of Kleinfontein, terwyl ’n ander nie sal rus voor daar ’n Afrikanerrepubliek is nie. Tog sal die pad na ’n Afrikanerrepubliek by talle mylpale verbyloop.
Republikeine kan nie bekostig om die mylpale te minag nie en ander hoef nie deur die republikeinse strewe bedreig te voel nie. As daar oor elke gestalte van selfbeskikking gejuig kan word, hoef diegene wat met verskillende gestaltes tevrede is, mekaar nie te verwyt nie.
Waardering vir elke gestalte van selfbeskikking beteken nie dat onrealistiese verwagtings skielik gekoester kan word nie. Afrikaners behoort, waar hulle ook al in Suid-Afrika woon, sekere kultuurregte te hê, soos seggenskap oor onderwys, deernisgevalle (welsyn) en veiligheid. Waar Afrikaners ’n nietige minderheid is en die moontlikheid om dit te verander nie bestaan nie, is republikeinse vryheid uitgesluit. Nou en in die toekoms.
Om vryheid te herwin, sal wesenlike opofferings verg. Nie alle Afrikaners hoef daaraan deel te neem nie, maar daar is ’n kans dat alle Afrikaners daardeur bevoordeel sal word. Ander kultuurregte behoort verwerf te word, omdat dit ’n beste praktyk vir multiëtniese state is. Alle Afrikaners sal daarby baat, ook die wat republikeinse vryheid aktief nastreef.
Die Vryheidsfront Plus hoef nie op verskillende pilare te bou nie, maar op die enkele basis van selfbeskikking.
Like this:
Like Loading...