deur Rozanne Meyer
Ek het groot geword as ’n Afrikaanse meisie in ’n nie-rassistiese pastorale huis en het my opvoeding ontvang in nie-rassige skole. Mens kan sê dat ons kleurblind grootgemaak was,maar tog was daar ’n logiese grenslyn waarvan ek van kindsbeen af bewus was.
Ek onthou nog hoe ons, na 1994, verby die see gery het en toe ’n wit meisie gesien het wat hand-aan-hand met ’n swart man geloop het. Ek het onwillekeurig gestaar, nie dat dit ’n sonde was nie maar omdat dit half vreemd voorgekom het.
Vrae het by my opgeduik soos wie se taal hulle met mekaar praat, wie se tradisies geëerbiedig word en watter kulturele aanpassings hulle en hul families moet maak om hul verhouding in konteks van hul wedersydse agtergronde te aanvaar. My ma het ’n afkeurende opmerking gemaak. Rassisme is verkeerd maar om nie-rassig te wees verander niks aan die feit dat daar ’n natuurlike verdeling binne die mensdom is nie. So was ons maar groot gemaak.
Die natuurlike verdeling het selfs binne my eie rassegroep plaasgevind want die Engelse in my tuisdorp het my altyd ’nboeremeisie genoem. Ek was anders as hulle. Die Oos-Kaap is natuurlik oorwegend Engelssprekend en ek was gedurende my kinderjare altyd onder die wanindruk dat Afrikaans ’n primitiewe taal is en selfs dat Afrikaners primitiewe mense is waarop die Engelse neerkyk.
Ek het later wel tot die besef gekom dat die Afrikaner die meerderheid blanke bevolkingsgroep in suidelike Afrika is en dat ek deel van ’n volk is wat ’n merkwaardige erfenis het. Ons is anders as die res, nie beter of slegter nie – net natuurlik deur geboorte en mens-vorming in ons eie groep verdeel.
Ons was nog altyd ’n trotse volk, nie omdat ons oor die nie-blankes regeer het nie, maar omdat ons óns was. Omdat ons Afrikaners is. Dit het my lank gevat om te begryp waar ons ingebore trots vandaan kom – wat die oorsprong van hierdie ingeboude liefde vir ons volk is wat terselfdertyd ’n ongetwyfelde liefde vir ons vaderland opwek.
Dis toe dat dié boeremeisie besef het wat ek alles het en wat van my ’n Afrikaner maak. Is dit ironies dat ek myself en my eie mense eers hier in die buiteland werklik gevind het? Die ou mense het ’n gesegde wat lui: “as ’n negosiekas ’n stoel word”. As niks iets word. Ek moes myself eers losmaak van al die struwelinge in die nuwe Suid-Afrika en van meet af ’n behoorlike introspeksie beoefen om die waarde van my Afrikaner identiteit op te spoor.
Afrikaners het so baie om op trots te wees, so ’n ryk geskiedenis. Ons kan inspirasie vind in die dade van heldhaftige generaals soos de Wet, Kemp en Maritz wat die Boere kommando’s teen die Empaaier gelei het. Onthou genl. Koos de la Rey wat gesien was as een van die bevoegste militêre strateë van sy era. Min bevelvoerders kon deur die eeue soveel verliese aan die magtige Britse leër toedien as genl. de la Rey tydens ons volk se stryd om ons vryheid en onafhanklikheid te verdedig. Ons kan praat oor merkwaardige intellektualiste soos Jan Smuts – ’n stigterslid van die Volkebond asook die Verenigde Nasies.
C.J. Langenhoven, die skrywer van daardie pragtige volkslied wat ons oë laat traan: Die Stem. Jacob Hendrik Pierneef, een van die beste landskap-kunstenaars van die Twintigste Eeu. Chris Barnard, die man wat die eerste suksesvolle hartoorplanting ter wêreld uitgevoer het. Anton Rupert, een van die suksesvolste entrepreneurs van die vorige eeu. Dr. H.F. Verwoerd, die staatsman wat ons finaal uit die imperialistiese kloue van Brittanje gelei het en die beste ekonomiese bloeitydperk in Suid-Afrika se geskiedenis bewerkstellig het.
Nadat ek dit als besef het, het ek ook ’n groeiende gaping gesien: mans wat hul “karate water” met ’n pinkie in die lug drink, dames wat nie sonder ’n huishulp kan klaar kom nie en Afrikaans wat by baie gesinne in die passasiersitplek sit – kortom: ons volkstrots, kultuur en tradisies word vandag afgeskeep!
Skuldgevoelens van die veronderstelde verlede is stadig maar seker besig om ’n houvas in ons huise en binne ons kultuur te vind. Liberale breinspoeling is besig om ons te beroof van ons trots. Ek het iemand eendag hoor sê: “Die moderne Afrikaner sal nog in sy eie bed vermoor word voordat hy bereid sal wees om ’n vinger te lig om die einste bed op te maak” . Laksheid en volksvreemde arbeid is inderdaad die oorsprong van baie Afrikaners se ondergang.
Wat het geword van selfbeskikking oor ons eie lot en trots op ons eie arbeid? Waarom word ons deur ’n ander nasie regeer en hoekom kyk so baie Afrikaners neer op die idee dat ons self ons eie handearbeid kan verrig in ons huise, in ons tuine en in ons werksplekke? Daar is niks vreemd aan die edele konsep dat ’n volk homself kan regeer en sy eie arbeid kan verrig nie. Myns insiens het Afrikaners geen reg om te kla oor hul omstandighede as hulle nie bereid gaan wees om hul eie “vuilwerk” te doen nie en hulle reeds aanvaar het dat hulle verewig onderdanig aan ’n ander nasie gaan wees.
Ons lewe in ’n benoude tyd in Suid-Afrika, waar baie mense begin sin maak van die onweerswolke waarin ons onsself bevind vir die afgelope 16jaar. Daar is mense wat glo dat die “Nag van die lang messe” om die draai is. Die meriete van hierdie doemprofesie is debatteerbaar. Dit is immers ’n feit dat ’n groot deel van die volk vandag blind en doof is t.o.v. die bedreigings wat reg voor ons is en vir ons almal in die oë staar. Niemand is so blind soos die mense wat nie wil sien nie!
Talle mense, insluitend Siener van Rensburg en Johanna Brand, het al visioene gehad oor die lot van ons land en die uitdunning van ons volk. Ek is van mening dat ons tans deur ’n smeltkroes gaan wat besig is om die koring van die kaf te skei. Die joiner en die bittereinder word só geïdentifiseer: die wat verkies om heerlik stroomaf te swem, al lei dit na hul ruïnasie; en die wat besluit het om stroomop te swem vir vryheid en geregtigheid, hopelik lei dit na ’n etnies homogene Afrikaner volkstaat waar die volk selfbeskikking oor sy eie instellings sal hê. Solank as wat hierdie instellings met ons eie hande opgebou en onderhou word sal ons die morele hoër grond hê.
Dit is ongelukkig wel so dat baie mense tydens die uitstappie van sogenaamde demokrasie die pad duister geraak het, hul veggees verloor het en besluit het om maar die moord en verkragting op ons volk te verduur solank as wat hul eie sekuriteitskomplekse se hekke tog net werk en die elektriese heinings die boewe se vingers deeglik skok. En so is die leuens, korrupsie en bloedvergieting van hierdie benarde samelewing besig om talle Afrikanerharte stukkie vir stukkie te vernietig.
Vir al die gemelde redes het ’n boeremeisie besef waar haar voorvaders vandaan kom, die rol wat haar volk deur die eeue in Afrika gespeel het en nog kan speel in die toekoms. Ek weier om te aanvaar dat die stryd vir die Afrikaner se voortbestaan verlore is. Te veel opofferings was deur ons voorvaders gemaak vir ons om vandag te bestaan. Om nou ons rûe op ons taal, kultuur en erfenis te draai is lafhartig en werklikwaar te absurd om enigsins te oorweeg.
My boodskap is eenvoudig: die wat hulself nog deel van die Afrikanervolk beskou moet nóú hande vat en saamstaan deur hierdie donker tydperk. Kom ons keer terug na ons wortels, na dit waarvoor ons voorvaders gestaan en geveg het. Ons is kinders van die Here en ons moet net in Hom vertrou en glo dat Sy hand ons uit die spreekwoordelike Babilon uit sal lei. Laat Gods water oor Gods akker loop terwyl ons bid en hard werk om ons vryheid te herstel.
Soos President Kruger gesê het: “Neem uit die verlede wat goed, skoon en edel is, en bou daarop die toekoms”.
Dis tyd dat ons voet neersit en opstaan vir ons voortbestaan, tyd om te leer uit ons foute van die verlede en te begryp dat ons as bittereinder Afrikaners reeds alles het wat ons benodig om hierdie smeltkroes waarin ons onsself tans bevind te oorleef. Na oorlewing volg die soet geure van vryheid en oorwinning.
Wees nét ’n Afrikaner, jy is genoeg.
“250 000 Afrikaners teenwoordig by die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949”