Pumza Fihlani, journalist employed by the BBC
Dear Pumza
I’m writing this letter in English even though I know that you speak fluent Afrikaans, unlike many who will read this letter, including your employers at the BBC.
Pumza Fihlani, journalist employed by the BBC
Dear Pumza
I’m writing this letter in English even though I know that you speak fluent Afrikaans, unlike many who will read this letter, including your employers at the BBC.
Tydens ‘n gesprek met dr. Wynand Boshoff oor die toekoms van Orania, het hy my vertel van ‘n skrywe wat sy pa ‘n paar weke voor sy afsterwe vir hom gegee het in die hoop dat dit later versprei sal word.
Dit handel oor die toekoms van suidelike Afrika en hoe vrede en stabiliteit in die streek bewerkstellig gaan word, al dan nie. Hierdie is een van die laaste artikels uit wyle prof. Carel Boshoff se pen en word hier vir die eerste keer met die publiek gedeel. Dis opvallend dat prof. Boshoff byna ‘n jaar voor Julius Malema se skorsing reeds gemeen het Malema is “nie die prins wat die troon sal bestyg nie”.
deur die Orania Beweging
Professor Carel Boshoff van Orania is vroeër vandag oorlede. Prof Boshoff was die afgelope jaar siek weens kanker en sy gesondheid het veral die afgelope maand ernstig agteruitgegaan.
Prof Boshoff se begrafnisdiens vind plaas op Saterdag, 19 Maart 2011, om 11:00 vanuit die Orania Gemeenskapsaal waarna die teraardebestelling by die Orania Begraafplaas sal plaasvind.
Prof Boshoff het enkele dae voor sy afsterwe aangedui dat sy dood juis sal moet beteken dat Orania vorentoe moet beweeg soos ‘n baba van wie die naelstring afgeknip is. Volgens Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, sal Orania na prof Boshoff se dood verder van krag tot krag gaan.
“Prof Carel was ‘n vaderfiguur in ons gemeenskap, maar soms word dit juis van die kinders vereis om dit wat hul vader begin het, voort te sit en verder uit te bou. Dit was ook prof Carel se laaste wens aan ons.”
Huldeblyk aan prof Boshoff
Professor Carel Willem Hendrik Boshoff is op 9 November 1927 op die plaas Doornfontein naby Nylstroom gebore.
Hy was die tweede kind van Willem Sterrenberg Boshoff en Anna Maria Boshoff.
Prof Boshoff het in die teologie studeer aan die Universiteit van Pretoria. As student het hy hom sterk vir sendingwerk beywer, en die feit dat hy vlot SePedi gepraat het, het tot suksesvolle werk bygedra. In 1956 het hy uit sy gemeente bedank, om die tradisionele Swart gebiede in die ou Transvaal as sendeling te betree. Die verwaarlosing hiervan deur die NG Kerk was vir hom ’n wesenlike probleem. Daar het egter ’n vloedgolf van sendingywer gevolg en binne ’n dekade is tientalle NG-leraars daar georden. Hy het in 1958 met sy gesin na Soweto verskuif, waar die nood ook groot en groeiend was. As sendingsekretaris sedert 1963 kon hy uitbreidende sendingwerk bevorder. In 1967 kom die Department Sending- en Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Pretoria onder hom tot stand. Hy het gedoktoreer met Sending in ’n tyd van sekularisasie as tema.
Binne die NG Kerk het hy hom vir institusionele eenheid beywer. Vir hom was dit met Woordbediening en gemeentelike organisasie in kultuureie idioom versoenbaar. Hy het ook ’n omvattende studie van Swart- en Bevrydingsteologie gemaak. Oor die stelling dat Swart Teologie uit Amerika kom, verklaar hy: “Swart Teologie kom uit die Bybel.” En later: “As daar nie tot gesprek met mekaar gevorder kan word nie, kan die resultaat katastrofies van aard wees.”
In 1954 is hy in die huwelik bevestig met Anna Verwoerd, dogter van die voormalige Eerste Minister van Suid-Afrika, dr HF Verwoerd. Sewe kinders is uit die huwelik gebore.
Prof. Boshoff was betrokke by verskeie teologiese- en volksinstellings en het dikwels as voorsitter gedien. Hy was onder meer voorsitter vir die NG Kerk Boekhandel (1972-1988), lid van die Raad van die Rand College of Education (1963-1979), voorsitter van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede (SABRA) (1972-1999), stigter en voorsitter van die Instituut vir Sendingwetenskap, Universiteit van Pretoria (1979-1988), voorsitter van die Afrikaner Broederbond (1979-1983), voorsitter van die Afrikaner Volkswag (1984-1999), voorsitter van die Afrikaanse Gereformeerde Bond (1986-1994), voorsitter van die Afrikaner Vryheidstigting (1988-2007), voorsitter van Orania Bestuursdienste (OBD) (1990-2011), Hoofleier van die Voortrekkers (1981-1989) en daarna lewenslange erelid, leier van die VF+ in die Noord-Kaap en lid van die Noord-Kaapse Wetgewer (1994-2002).
Prof en mev Boshoff het 1993 permanent na Orania verhuis. Sy eggenote het hom na ‘n beroerte in 2007 ontval. Hy is in 2008 met kanker gediagnoseer, maar kon die meeste van die tyd sy program normaal voortsit. Wanneer hy ernstig siek was, is hy baie getrou deur sy ouer suster, mej Annatjie Boshoff, ook ’n Orania-pionier, versorg. Hy laat ses kinders en 23 kleinkinders na.
’n Gunstelingaanhaling wat prof Boshoff dikwels gebruik het is: Vryheid is ’n seën, maar dit is nie ’n geskenk nie. Dit is waarskynlik ’n spreuk wat sy lewenstaak opgesom het. Hy het sy lewe gewy aan die oorlewing van die Afrikanervolk en die bewaring van die Afrikanerkultuur.
Reeds sedert 1966 het hy saam met ander intellektuele Afrikanerleiers die kontroversiële mening gehuldig dat apartheid nie ’n volhoubare stelsel was nie. Hulle was van mening dat die meerderheid mense in die land ook stemreg moes hê, maar het terselfdertyd geglo dat dit noodsaaklik is dat minderheidsgroepe soos die Afrikaner in Suid-Afrika beskerm moes word.
Prof Boshoff het sy boerderybelangstelling soos baie ander dinge behou ten spyte van akademiese, kerklike, politieke en sosiale druk. Hy het sy mense en hulle behoeftes verstaan en gedien omdat hy ook boer was.
Carel Boshoff was ’n mens wat alle mense met wie hy in aanraking gekom het, swart of wit, met respek behandel het. Tot aan die einde het hy hom besonder sterk uitgespreek teen rassisme.
Met ’n onlangse besoek aan Orania het president Jacob Zuma opgemerk dat die ganse tyd dat hy vir prof Boshoff geken het, hy oor dekades aan dieselfde visie bly glo het. Ander tydgenote en nakomelinge van prof Boshoff moes dikwels van rigting verander omdat die oplossings wat hulle voorgestaan het nie volhoubaar was nie. Prof Boshoff se voorstel, met die steun van SABRA se navorsing, dat die Noordwes-Kaap die ruimte vir die Afrikaner bied om te vestig en uit te groei tot ’n eie republiek, het die toets van die tyd deurstaan.
Prof Boshoff het die behoeftes van gewone Afrikaners verstaan lank voor hulle self verstaan het wat hulle in die toekoms sou verloor. Hoewel min mense die ideaal waarvoor prof Boshoff gewerk het toentertyd gesnap het, het hy onvermoeid tot aan die einde van sy lewe daarvoor gewerk. Hy het onwrikbaar geglo aan vryheid vir die Afrikaner wat bevestig moes word deur eie grond, eie instellings en eie arbeid.
Hoewel Carel Boshoff se gesig nooit op ’n vyfrandmuntstuk gepryk het nie, laat hy met Orania ’n lewende erfenis na. Die instellings wat die Orania-ideaal bevorder, is stewige strukture en die grondwerk is deeglik gedoen.
Met die afsterwe van prof Carel Willem Hendrik Boshoff word die naelstring geknip, maar Orania is ’n realiteit wat daagliks groei en steeds ‘n antwoord vir Afrikaners in Afrika bied.