In vandag se tyd is dit ondenkbaar om sonder die internet te lewe. Die web het inderdaad ons hoofbron van navorsing, inligting en bemarking geword. In Orania se geval is dit tans ‘n tweesydige swaard.
Wanneer mens Orania “google” vind jy die webwerwe van Orania Beweging, Afsaal-op-Orania en Orania se Wikipedia-bladsy heel boaan die resultaat-bladsy. Ander webwerwe soos Orania Oewerhotel, Orania Toere en Orania CVO is nog op die tweede resultaat-bladsy, maar is gelukkig besig om vinnig te klim.
Dan sien mens, ook op die eerste resultaat-bladsy, skakels na artikels soos “Orania: where apartheid lives on” en “10 years on, Orania fades away”. Meeste van hierdie artikels is deur liberale joernaliste geskryf om doelbewus neerhalend te wees en Orania te smaad. Die probleem word vererger weens die feit dat baie van hierdie artikels uiters onakkuraat is en foutiewe inligting aan lesers verskaf.
Daar word dus ‘n kontrasterende beeld geskep wat lesers verwar – wie is dan nou eintlik reg?
Vry Afrikaner het besluit om in die belang van Orania op te tree en iets hieromtrent te doen. Ons het ’n string nuwe web-domeine geregistreer en is tans besig om Orania gebaseerde webwerwe te ontwikkel dat dit bars. Die dae dat gemors oor Orania voorkeur op die Internet geniet is verby!
Om te wys hoe graag ons met Orania wil spog het Vry Afrikaner gister die eerste van hierdie nuwe webwerwe geloods, nl. Lief-Orania. Dis ‘n spreekwoordelike aanlyn skouvloer vir die beste wat Orania het om aan die publiek te bied.
Lief-Orania is ’n webwerf wat ten doel het om die gemeenskap en besighede van Orania te bevorder. Dit dien as ‘n aanlyn gids vir uitwoners wat wil kom kuier, moontlike beleggers en enige nuuskierige agies daarbuite wat Afrikaans kan verstaan.
Dit is die eerste webwerf van sy soort in die sin dat hy ook Vry Afrikaner se projekte bemark, Orania se gemeenskap op ‘n moderne wyse bekendstel en ’n gids van al Orania se besighede op een kuber-bymekaarkomplek beskikbaarstel.
Lief-Orania teiken die welvarende Afrikaner wie se harte en beleggings broodnodig is om ontwikkeling op Orania en die groter volkstaat-gebied te versnel.
Bo en behalwe dit is Lief-Orania ’n moderne, netjiese webwerf waarby enige eerste wêreld denker aanklank sal vind, wat meer kan ’n besoeker voor vra?
Laat weet ons hieronder wat dink julle van: http://www.lief-orania.co.za
Orania voorwaarts!