Republiek!

Sedert die dae van die antieke stadstate van Atene en Sparta was die westerse beskawing blootgestel aan die konsep van ‘n demokratiese magstruktuur wat later in die jaar ca. 509 v.C. gelei het tot die stigting van die Romeinse Republiek.

Die Senatus Populus Que Romanus (SPQR), of “die senaat en mense van Rome”, was die soewereine entiteit wat vir etlike eeue oor die grootste dele van Europa, Noord-Afrika en die Ou Nabye-Ooste met welslae geheers het. Die antieke wêreld het nooit tevore ’n soortgelyke tydperk van orde, ekonomiese vooruitgang en beskawing geken nie. Die fondasies van moderne demokrasie en republikanisme was gedurende hierdie era van die menslike evolusie neergelê.

Die woord republiek is afkomstig vanuit die Latynse res publica, of “publieke saak”. In die mees basiese sin is die republiek ’n staat waarin soewereiniteit uiteindelik vanaf die mense afkomstig is, eerder as vanuit ’n monargiese, oorerflike  of ander beginsel. In ’n neutedop is dit die mense wat self die besluite neem en selfbeskikking oor hul eie instellings geniet binne ’n bepaalde staat. So word die mense se beste belange deur hul eie besluite bepaal.

Die Afrikaner woon tans in ’n republiek wat op 31 Mei 1961 gestig was. Heel ironies dat dit die Afrikaner was wat op daardie reënerige dag in Pretoria hierdie einste Republiek uitgeroep het waaroor ons vandag geen vorm van staatkundige selfbeskikking geniet nie of dat daar selfs na ons beste belange omgesien word nie. Die Suid-Afrikaanse nasie in geheel geniet egter republikeinse vryheid ten koste van die beste belange van diegene wat die Republiek in die eerste plek gestig het.

Vir die Afrikaner om sy reg op republikeinse vryheid uit te leef is daar basies twee rigtings wat hy kan inneem. Enersyds sal die Afrikaner se identiteit en belange in lyn met die nasie moet beweeg om sodoende binne die Nuwe Suid-Afrika deel van die mense te wees, of andersyds sal daar ’n onafhanklike republiek deur die Afrikaner gestig moet word waar sy bestaande identiteit verder kan ontwikkel maar ook waar sy belange beskerm en bemagtig kan word.

Alvorens Afrikaners kan besluit watter rigting om te kies moet daar egter geen twyfel by die leser bestaan t.o.v. wat presies bedoel word met die konsepte van identiteit en belange nie.

Faktore wat die identiteit van ’n volk bepaal is o.a. die taal wat deur volksgenote gepraat word, die volk se unieke kultuur, sy eie tradisies, geskiedenis en sedes. Afrikaners is mense wat Afrikaans praat, deel in die Afrikaner kultuur en vereenselwig met die gemeenskaplike tradisies en geskiedenis wat eie is aan die Afrikaner. Ons is ook die enigste volk op aarde wat gereeld na onsself verwys as Boere. Afrikaner of Boer, dis ons identiteit waarop geen ander volk kan aanspraak maak nie soos ons bv. nie kan aanspraak maak op die Nederlandse of Hollandse identiteit nie.

Die faktore wat die beste belange van ’n volk bepaal is o.a. die volk se reg om sy identiteit uit te lewe, ekonomies vooruitstrewend te wees, aanvaarbare vlakke van veiligheid en sekuriteit van die individu asook die gemeenskap in geheel te handhaaf, moedertaal onderrig, selfbeskikking oor sy eie instellings en ’n gesonde demokrasie.

Ons het in die jare na 1994 gesien dat die Nuwe Suid-Afrika die Afrikaner ernstig beperk om sy identiteit te behou en dat nie een van die faktore wat veronderstel is om die algehele Afrikanergemeenskap se beste belange te bevorder van toepassing op ons omstandighede is nie.

Hierbenewens sal die Afrikaner moet verengels, ’n liberaal-eklektiese kultuur moet aanhang en deel in die nuutgevonde tradisies en geskiedenis wat eie is aan die Nuwe Suid-Afrika. Indien nie dan sal die Afrikaner nooit met die Nuwe Suid-Afrika kan versoen nie of werklik deel van die Mzanzi res publica kan wees nie.

Ons het ook gesien dat daar baie Afrikaners is wat sedert 1994 hart en siel deel geword het van die Nuwe Suid-Afrikaanse, oftewel, Mzanzi-nasie. Kwessies soos identiteit en beste belange is nie werklik vir hierdie mense ’n probleem nie, want hulle kan identifiseer met Mzanzi en hulle het hul belange in lyn met die res van die nasie gebring, m.a.w. wat goed is vir die nasie is goed vir hulle. Hierdie mense verwys na hulself eerstens as Suid-Afrikaners maar gereeld ook as Afrikaanses. Hulle het reeds die rigting gekies waarin hulle hul toekoms wil bou en daarby sal Afrikaanses moet staan of val.

Nietemin is daar ’n wesenlike deel van die oorblywende pre-1994 Afrikanervolk wat nie in staat of bereid is om hul taal, kultuur, tradisies, sedes en erfenis prys te gee nie en by implikasie te integreer soos die Afrikaanses reeds gedoen het nie. Hierdie Afrikaners sukkel verskriklik om aan te pas en ervaar die hoofstroom-kultuur in die Nuwe Suid-Afrika meer onderdrukkend as bevrydend. Afrikaners se onvermoë om te transformeer word verkeerdelik beskou as rassisme terwyl dit in werklikheid rassisties is om van ’n bestaande volk te verwag om sy identiteit op te offer en self so vêr te gaan as om sy etnisiteit te vermeng om sodoende totaal te integreer met die nuwe nasie.

Nietemin is daar geen konsensus onder Afrikaners wat betref die beste koers om in te slaan nie. Die meeste Afrikaners het ’n nis gevind waarin hulle op ’n selfgesentreerde wyse kan oorleef binne die Nuwe Suid-Afrika en verbitterd toe te sien hoe hul gemeenskap stelselmatig besig is om te disintegreer. Die veronderstelde magteloosheid van ons omstandighede is iets wat baie Afrikaners al as ’n gegewe aanvaar het en derhalwe laat besluit het om liewer die geslypte byle eenkant te laat lê.

Die splintergroepies wat die Afrikaner verteenwoordig is gereeld betrokke met binnegevegte of om aanvalle op mekaar te loods terwyl net verdere mismoedigheid gekweek word en daar geen daadwerklike verskil gemaak word m.b.t. die omstandighede waarin ons moet oorleef nie. Elke haan wil net op sy eie mishoop staan en raas terwyl ons ook tot die besef gekom het dat sekere sg. aktiviste in werklikheid net besig is om hulself te bevorder omrede hulle ly aan persoonlike illusies van grootheid.

Dit is in tye soos hierdie waar emosies opsy gesit moet word en elke man, vrou en kind wat ernstig oor die toekoms van die Afrikaner is die uitdagings met ’n nugter benadering moet aanpak. Diegene wat nog vertrou dat ’n groot leier eendag gaan kom om al ons probleme vir ons op te los gaan ongelukkig verewig moet wag want geen mens is op sy eie in staat om die Afrikaner se omstandighede te verander nie. ’n Idee kan wel. ’n Groep wat die idee ondersteun kan beslis. Die groep wat die idee ’n werklikheid maak los DV baie vinnig die probleem in totaliteit op.

Wat is die idee dan en wie is die groep waarby ons moet aansluit?

Die idee is om ’n nuwe republiek vir die Afrikaner op te rig. Aangesien ons voorvaders dit in die tydperk 1794 tot 1961 al telkemale kon doen bestaan daar absoluut geen rede waarom ons dit nie vandag weer kan doen nie.

Waar dan? In ’n gebied waar dit uiteindelik vir altyd die meeste sin gaan maak om ’n land vir die Afrikaner te bou, d.w.s. waar dit haalbaar is vir die Afrikaner om die oorgrote meerderheid van die bevolking te wees en ’n volhoubare bestaan te maak. ’n Gebied wat se oppervlakte in lyn is met die Afrikaner se getalle en wat ons sal kan verdedig teen enige aggressor. Die gebied moet tans grotendeels onbevolk wees en daar moet genoegsame natuurlike hulpbronne wees om te boer, handeldryf en industrieë te skep.

Hierdie gebied was in die laat tagtigerjare reeds geïdentifiseer en bestaan uit ’n groot deel van die Noord-Kaap, langs die Oranjerivier tot teen die Weskus.

Hoe dan? Deur Afrikaner gemeenskappe te vestig in hierdie gebied word die streek bevolk deur ons eie mense. Die uitsluitlike gebruik van ons eie arbeid verseker dat ons die oorgrote meerderheid bevolking in ons eie gemeenskappe is en sodoende nie afhanklik van ander volke hoef te wees om vir onsself te voorsien nie. Wanneer dit bv. by verkiesings kom dan is al die kandidate Afrikaners wat op hul eie wyses die beste belange van mede-Afrikaners wil bevorder, eerder as om toegewings te maak sodat die belange van ander volke ook geakkommodeer moet word. Hierdie stelsel is slegs moontlik mits geen ander volke betrokke is by die funksionering van die Afrikanergemeenskap nie en derhalwe nie in enige hoedanigheid ’n faktor is nie.

Wie dan? Sedert 1991 is die Afrikaners in Orania al besig om hierdie strategie te volg en terwyl die toestande vir Afrikaners in ander dele van suidelike Afrika net agteruit gegaan het, is dit ’n totaal teenoorgestelde geval in Orania. Volhoubare ekonomiese groei en aanvaarbare dienslewering tesame met uiters lae vlakke van misdaad en hoë gehalte-onderwys is net ’n paar van die werklikhede wat in Orania seëvier. Hoekom wil mens krepeer in ’n volksvreemde republiek terwyl mens kan floreer in ’n Afrikaner Republiek? Nugter denke en logika!

Aangesien al die Afrikaners nooit op Orania kan hervestig nie weens ’n eenvoudige gebrek aan spasie is dit belangrik om nog groeipunte (gemeenskappe) in die geïdentifiseerde streek te vestig wat by wyse van die Orania-model funksioneer. Voordat verdere groeipunte opgerig kan word moet Orania egter eers ’n optimale vlak van ontwikkeling bereik sodat ons in staat kan wees om die nodige fondse, arbeid en kundigheid beskikbaar te stel sodat infrastruktuur geskep kan word vir die toekomstige groeipunte. Deur Orania te ondersteun is Afrikaners daadwerklik besig om die groter doel na te streef.

Wat die regsaspek betref is Afrikaners geheel en al geregtig om selfbeskikking oor hul eie instellings binne hul eie territoriale entiteit te hê. Artikel 235 in die Suid-Afrikaanse grondwet waarborg ons hierdie reg. Die Verenigde Nasies se manifes waarborg enige volk op aarde die reg om oor sy eie lot te bepaal op ’n wyse wat in sy beste belange is. Die beginsel van Afrikaner-vryheid is reeds waterdig en word deur die internasionale gemeenskap aanvaar – die uitvoering moet net deur meer Afrikaners aangepak word om sodoende ’n onafhanklike republiek te stig. Skep eers die realiteite sodat daar fisies ’n republiek in die lewe geroep kan word. Ons voorvaders het mos nie gedurende die 1830’s die OVS en die ZAR vanuit Kaapstad of Graaff-Reinet gestig nie of volksverkiesings gehou om hul vryheid te eis nie. Hulle het eers die nodige werklikhede op voetsoolvlak gaan vestig voordat hulle hul republikeinse vryheid kon verklaar.

Soos die Romeine hul republiek letterlik vanuit die grond opgebou het, so ook is die Afrikaner besig om vandag sy nuwe en waarskynlik ook sy laaste republiek te bou. Laaste omrede ons uit ons foute van die verlede geleer het en kan sien wat volhoubaar is, al dan nie. Hierdie keer herstel ons ons vryheid op die regte plek met die regte intensies en met die regte hande – ons Boere hande!

Rome was nie in ’n dag gebou nie maar die Romeine het immers op ’n dag begin om Rome te bou. Indien die eise wat onafhanklikheid stel vir sommige mense te hoog is dan verdien hulle nie die voorreg om bemagtig te word deur hul volk se reg op republikeinse vryheid uit te leef nie. By hierdie beginsel sal die Afrikaner moet staan of val.

In die woorde van dr. D.F. Malan, een van die vorige eeu se grootste stryders vir Afrikaner Republikanisme: “Afrikaner, waarheen is jy op pad?” “Glo in God! Glo in jou volk! Glo in jouself!”

Orania:  http://www.orania.co.za

Lees ‘Wees net n Afrikaner

Sluit aan by: Carte Blanche se Facebook groep

Vry Afrikaner se Facebook groep

 

Die Stem roep!

“Die Afrikanerhart is seer en moeg, maar trou nog!” – Jan F.E. Celliers

Hierdie woorde was amper ‘n eeu gelede geuiter deur ‘n kampvegter vir die Afrikanervolk en ons taal. Gesien in konteks van die huidige omstandighede waarin moderne Afrikaners vandag verkeer, dien Celliers se woorde as ‘n inspirasie vir my as jong Afrikaner: die wete dat ons voorvaders soortgelyke uitdagings die hoof gebied het en daarin geslaag het om ons pragtige kultuur, taal en tradisies behoue te laat bly.

Daar is egter ook sg. Afrikaanses vandag, mense soos Jan-Jan Joubert, Marthinus van Schalkwyk, Leon Wessels,  Max du Preez en Carl Niehaus wat nie wil aanspraak maak op ‘n Afrikanerhart nie. Hul aksies bepaal natuurlik hoe hulle deur die nageslag onthou sal word. Trouens, indien hulle enigsins onthou gaan word, dan sal dit wees in skerp kontras met hoe ons vandag Celliers, Steyn, Langenhoven, Opperman, Hertzog, Malan en van Wyk Louw beskou. Die lyn is getrek en daar is ‘n groeiende Afrikaner kultuurpolitieke weerstand teen die verraad en galbrakery van die Jan-Jan Jouberts daarbuite.

Die Afrikanerhater en die gif wat hy versprei is nietemin ‘n kenmerkende eienskap van die Nuwe Suid-Afrika. Dit laat my gedagtes dwaal oor wat presies die Nuwe Suid-Afrika dan in werklikheid is. Dis natuurlik voor die hand liggend dat die land waarin ons vandag woon hoegenaamd nie dieselfde land is waarvoor ons voorvaders geveg het nie.

Vandag word die fantasie van ‘n multikulturele nie-rassige samelewing, waar almal reënboogkinders is, met mening in die jong Afrikaner se keel afgewurg terwyl, in die praktyk, ‘n rassistiese ideologie van swart bemagtiging eintlik met die term “nie-rassigheid” bedoel word. Dis mos maklik vir die jong Afrikaner om aan te pas want hulle is jong boompies wat gebuig kan word, gebuig móét word.

Die liberale multikulturele boodskap van TV-programme, nuus, Naspers koerante asook die hernoeming van strate, stadia, lughawens en dorpe moet ons mos aanvaar! Ons word vertel dat alles wat met die Afrikaner voor 1994 gebeur het liewers nie onthou moet word nie en by implikasie uit die geskiedenis moet verdwyn sodat ons waarlik deel van ‘n multikulturele “nie-rassige” reënboognasie kan wees.

‘n Swartreënboognasie, ja. As jy nie weet wie jou voorvaders was nie en wat jou geskiedenis regtig behels nie dan het jy mos niks om voor op te staan of om te probeer beskerm nie.

Verder, wat van die ouer bome – diegene wat geleef het in die dae toe die Afrikaner nog ‘n Republiek gehad en bestuur het? Al gewonder hoe hierdie mense moet voel nou dat hulle hulself in ‘n swartreënboognasie bevind waar alles waarvoor hulle gewerk en gestry het besig is om tot niet te gaan?

Die Suid-Afrika van gister en die Suid-Afrika van vandag is uiteraard meer as net twee verskillende lande, dit is twee uiteenlopende identiteite. Die resultaat is derduisende gebroke harte.

Nou sit ons almal, jonk en oud, in ‘n land wat deur ons voorvaders gebou was, waarvoor hulle gebloei het en op die ou einde eenvoudig deur die massas onherroeplik oorrompel is. Die Afrikanerhater het sy oorwinning behaal. Waarin moet opregte Afrikaners dan glo vandag? Waarvoor moet ons dan opstaan? Nie vir Suid-Afrika, d.i. die oue of die nuwe nie, nee – ons moet opstaan vir ons Afrikanerskap, vir ons volk se bestaansreg en ons onbetwiste reg om vry te wees om ons taal, kultuur en tradisies uit te leef in ‘n eie Afrikaner Republiek wat op grond van Christelike waardes en oortuigings opgerig word, deur die Afrikaner vir die Afrikaner. Dit is iets om in te glo!

Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie! As Afrikanervryheid, ons taal en kultuur vir iemand te veel, of te ekstreem is om voor op te staan, dan is ek bevrees dat so ‘n persoon nie verdien om vry te wees nie.

Die Afrikaner wat weier om verder hierdie gif te sluk moet nou sy huis in orde kry en sy taal suiwer begin praat, sy geloof koester, sy kultuur en identiteit meedoënloos beskerm deur dit op alle terreine uit te lewe. Neem die houding van ons voorvaders in: ons is nie vir onderhorigheid gebore nie!

Gedurende tye soos hierdie kan Afrikaners hoop en moed skep uit ons eie volkslied, veral die inspirerende stellings in die 4de verse:

“Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou. Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vad’re vir ons kinders erwe bly: knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry. Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer – met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.”

Die Stem roep!

Wees nét ’n Afrikaner

deur Rozanne Meyer

Ek het groot geword as ’n Afrikaanse meisie in ’n nie-rassistiese pastorale huis en het my opvoeding ontvang in nie-rassige skole. Mens kan sê dat ons kleurblind grootgemaak was,maar tog was daar ’n logiese grenslyn waarvan ek van kindsbeen af bewus was.

Ek onthou nog hoe ons, na 1994, verby die see gery het en toe ’n wit meisie gesien het wat hand-aan-hand met ’n swart man geloop het. Ek het onwillekeurig gestaar, nie dat dit ’n sonde was nie maar omdat dit half vreemd voorgekom het.

Vrae het by my opgeduik soos wie se taal hulle met mekaar praat, wie se tradisies geëerbiedig word en watter kulturele aanpassings hulle en hul families moet maak om hul verhouding in konteks van hul wedersydse agtergronde te aanvaar. My ma het ’n afkeurende opmerking gemaak. Rassisme is verkeerd maar om nie-rassig te wees verander niks aan die feit dat daar ’n natuurlike verdeling binne die mensdom is nie. So was ons maar groot gemaak.

Die natuurlike verdeling het selfs binne my eie rassegroep plaasgevind want die Engelse in my tuisdorp het my altyd ’nboeremeisie genoem. Ek was anders as hulle. Die Oos-Kaap is natuurlik oorwegend Engelssprekend en ek was gedurende my kinderjare altyd onder die wanindruk dat Afrikaans ’n primitiewe taal is en selfs dat Afrikaners primitiewe mense is waarop die Engelse neerkyk.

Ek het later wel tot die besef gekom dat die Afrikaner die meerderheid blanke bevolkingsgroep in suidelike Afrika is en dat ek deel van ’n volk is wat ’n merkwaardige erfenis het. Ons is anders as die res, nie beter of slegter nie – net natuurlik deur geboorte en mens-vorming in ons eie groep verdeel.

Ons was nog altyd ’n trotse volk, nie omdat ons oor die nie-blankes regeer het nie, maar omdat ons óns was. Omdat ons Afrikaners is. Dit het my lank gevat om te begryp waar ons ingebore trots vandaan kom – wat die oorsprong van hierdie ingeboude liefde vir ons volk is wat terselfdertyd ’n ongetwyfelde liefde vir ons vaderland opwek.

Dis toe dat dié boeremeisie besef het wat ek alles het en wat van my ’n Afrikaner maak. Is dit ironies dat ek myself en my eie mense eers hier in die buiteland werklik gevind het? Die ou mense het ’n  gesegde wat lui: “as ’n negosiekas ’n stoel word”. As niks iets word. Ek moes myself eers losmaak van al die struwelinge in die nuwe Suid-Afrika en van meet af ’n behoorlike introspeksie beoefen om die waarde van my Afrikaner identiteit op te spoor.

Afrikaners het so baie om op trots te wees, so ’n ryk geskiedenis. Ons kan inspirasie vind in die dade van heldhaftige generaals soos de Wet, Kemp en Maritz wat die Boere kommando’s teen die Empaaier gelei het. Onthou genl. Koos de la Rey wat gesien was as een van die bevoegste militêre strateë van sy era. Min bevelvoerders kon deur die eeue soveel verliese aan die magtige Britse leër toedien as genl. de la Rey tydens ons volk se stryd om ons vryheid en onafhanklikheid te verdedig. Ons kan praat oor merkwaardige intellektualiste soos Jan Smuts – ’n stigterslid van die Volkebond asook die Verenigde Nasies.

C.J. Langenhoven, die skrywer van daardie pragtige volkslied wat ons oë laat traan: Die Stem. Jacob Hendrik Pierneef, een van die beste landskap-kunstenaars van die Twintigste Eeu. Chris Barnard, die man wat die eerste suksesvolle hartoorplanting ter wêreld  uitgevoer het. Anton Rupert, een van die suksesvolste entrepreneurs van die vorige eeu. Dr. H.F. Verwoerd, die staatsman wat ons finaal uit die imperialistiese kloue van Brittanje gelei het en die beste ekonomiese bloeitydperk in Suid-Afrika se geskiedenis bewerkstellig het.

Nadat ek dit als besef het, het ek ook ’n groeiende gaping gesien: mans wat hul “karate water” met ’n pinkie in die lug drink, dames wat nie sonder ’n huishulp kan klaar kom nie en Afrikaans wat by baie gesinne in die passasiersitplek sit – kortom: ons volkstrots, kultuur en tradisies word vandag afgeskeep!

Skuldgevoelens van die veronderstelde verlede is stadig maar seker besig om ’n houvas in ons huise en binne ons kultuur te vind. Liberale breinspoeling is besig om ons te beroof van ons trots. Ek het iemand eendag hoor sê: “Die moderne Afrikaner sal nog in sy eie bed vermoor word voordat hy bereid sal wees om ’n  vinger te lig om die einste bed op te maak” . Laksheid en volksvreemde arbeid is inderdaad die oorsprong van baie Afrikaners se ondergang.

Wat het geword van selfbeskikking oor ons eie lot en trots op ons eie arbeid?  Waarom word ons deur ’n ander nasie regeer en hoekom kyk so baie Afrikaners neer op die idee dat ons self ons eie handearbeid kan verrig in ons huise, in ons tuine en in ons werksplekke? Daar is niks vreemd aan die edele konsep dat ’n volk homself kan regeer en sy eie arbeid kan verrig nie. Myns insiens het Afrikaners geen reg om te kla oor hul omstandighede as hulle nie bereid gaan wees om hul eie “vuilwerk” te doen nie en hulle reeds aanvaar het dat hulle verewig onderdanig aan ’n ander nasie gaan wees.

Ons lewe in ’n benoude tyd in Suid-Afrika, waar baie mense begin sin maak van die onweerswolke waarin ons onsself bevind vir die afgelope 16jaar. Daar is mense wat glo dat die “Nag van die lang messe” om die draai is. Die meriete van hierdie doemprofesie is debatteerbaar. Dit is immers ’n feit  dat ’n groot deel van die volk vandag blind en doof is t.o.v. die bedreigings wat reg voor ons is en  vir ons almal in die oë staar. Niemand is so blind soos die mense wat nie wil sien nie!

Talle mense, insluitend Siener van Rensburg en Johanna Brand, het al visioene gehad oor die lot van ons land en die uitdunning van ons volk. Ek is van mening dat ons tans deur ’n smeltkroes gaan wat besig is om die koring van die kaf te skei. Die joiner  en die bittereinder word só geïdentifiseer: die wat verkies om heerlik stroomaf te swem, al lei dit na hul ruïnasie; en die wat besluit het om stroomop te swem vir vryheid en geregtigheid, hopelik lei dit na ’n etnies homogene Afrikaner volkstaat waar die volk selfbeskikking oor sy eie instellings sal hê. Solank as wat hierdie instellings met ons eie hande opgebou en onderhou word sal ons die morele hoër grond hê.

Dit is ongelukkig wel so dat baie mense tydens die uitstappie  van sogenaamde demokrasie die pad duister geraak het, hul veggees verloor het en besluit het om maar die moord en verkragting op ons volk te verduur solank as wat hul eie sekuriteitskomplekse se hekke tog net werk en die elektriese heinings die boewe se vingers deeglik skok. En so is die leuens, korrupsie en bloedvergieting van hierdie benarde samelewing besig om talle Afrikanerharte stukkie vir stukkie  te vernietig.

Vir al die gemelde redes het ’n boeremeisie besef waar haar voorvaders vandaan kom, die rol wat haar volk deur die eeue in Afrika gespeel het  en nog kan speel in die toekoms. Ek weier om te aanvaar dat die stryd vir die Afrikaner se voortbestaan verlore is. Te veel opofferings was deur ons voorvaders gemaak vir ons om vandag te bestaan. Om nou ons rûe op ons taal, kultuur en erfenis te draai is lafhartig en werklikwaar te absurd om enigsins te oorweeg.

My boodskap is eenvoudig: die wat hulself nog deel van die Afrikanervolk beskou moet nóú  hande vat en saamstaan deur hierdie donker  tydperk. Kom ons keer terug na ons wortels, na dit waarvoor ons voorvaders gestaan en geveg het. Ons is kinders van die Here en ons moet net in Hom vertrou en glo dat Sy hand ons uit die spreekwoordelike Babilon uit sal lei. Laat Gods water oor Gods akker loop terwyl ons bid en hard werk om ons vryheid te herstel.

Soos President Kruger gesê het: “Neem uit die verlede wat goed, skoon en edel is, en bou daarop die toekoms”.

Dis tyd dat ons voet neersit en opstaan vir ons voortbestaan, tyd om te leer uit ons foute van die verlede en te begryp dat ons as bittereinder Afrikaners reeds alles het wat ons benodig om hierdie smeltkroes waarin ons onsself tans bevind te oorleef. Na oorlewing volg die soet geure van vryheid en oorwinning.

Wees nét ’n Afrikaner, jy is genoeg.

“250 000 Afrikaners teenwoordig by die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949”