deur Ben Le Roux
Dis ‘n nuwe jaar met nuwe gesiggies op die skoolbanke. Volop gesiggies wat ‘n aanslag teen die Afrikaner verteenwoordig. Voetsoldaatjies van ‘n ander soort! As jy die getalle het, bied ‘n gebrek aan fasiliteite ‘n ‘goeie’ verskoning om voor te hou as rede tot die binnedring van jou ‘vyand’ (lees; die Afrikaner) se enklawes.
Is daar ‘n werklike tekort aan klaskamers vir sy “English learners” of is die ANC regering met ‘n doelbewuste poging besig om alle Afrikaner vestings, beginnende by sy skole en universiteite, te vernietig? Geld vir die voorsiening maak van fasiliteite was daar deurgaans genoeg van.
Beland daardie geld in korrupte sakke of is daar maar net nie die regte mense beskikbaar vir die deurvoer van komplekse projekte nie? Hoe dit ook al sy, die hoë standaarde wat die Afrikaner gehandhaaf het in die opbou van hierdie Britse reliek, bekend as die Republiek van Suid-Afrika, is nou iets van die verlede. Met elke ‘Fees must fall’ optog, met elke brandstigting in ‘n ou geskiedkundige gebou, elke besmering van ‘n monument of standbeeld word dié verval bevestig!
In ‘n sogenaamde demokratiese orde, soos wat dit hier as synde voorgegee word, staan ‘n minderheidsgroep soos die Afrikaners nie ‘n kat se kans om veel sê in regeringsbesluite te kan maak nie!
Moedeloos by die besef hiervan, sit van ons beste breins en talent nou oorsee, verlangend en hunker na beskuit en biltong.
Dit hoef nie so te wees nie! Ons kan ons eie ding HIER doen! Die vraag is net: Het ons genoeg mense wat ons gemeenskap se belange bo hul eie belange stel? Anders gestel: Is daar genoeg van ons wat Afrikaans lief het? Waarom sal ons die taal waarin ons dink en doen, waarin ons ‘n waardevolle letterskat opgebou het, waarin ons geskiedenis gemaak het en waarin ons volkspersoonlikheid gesetel is, prysgee vir iets in die vreemde wat niks meer as ‘n ekonomiese voordeel bied nie.
Dis wanneer sulke sake ter sprake kom dat ‘n ontkiemende enklawe soos Orania betekenis kry. My vertroue daarin dat ons genoeg van die regte mense materiaal het waarmee ons die wa deur die drif sal kry word hiér bevestig. Ek, wat die projek van die begin af volg, het gesien hoe gesindhede verander het. Beginnende met ‘n gespot oor “die belaglike projek” en ‘n “belediging vir Afrikaners” tot ‘n bewondering vir “die prag dorpie langs die Oranje’. Ja! Dorpie! Dié dorpie is op pad stad toe!
Profeet speel is moeilik en gevaarlik maar wat staan in die pad van Orania as stad met naasliggende dorpies wat sy voorbeeld volg en al uitkringend vir die Afrikaner in die proses, ‘n eie vaderland skep. Alleenlik die met die moed en die wil en die begeerte om by meer as die eiebelang betrokke te raak, kan ons toekoms verseker. Net die gebrek aan sulke mensmateriaal kan in ons pad staan.
Orania se sukses is bewys van die bestaan van dié soort mense, maar is daar genoeg van hulle vir die taak wat wag? Ek glo so, hou maar net die ruimte op ‘n kaart waarop Orania geleë is dop!
Ek was lanklaas hier.
Onlangs was ek in België waar daar ‘n Afrikaans byeenkoms was, daar was verteenwoordigers van al die universiteite met ‘n redelike konsensus: Akademiese Afrikaans in Suidafrika is verby. Meeste van daardie professore hoop op aftrede en niks meer nie.
Goed, dit daargelaat, vertel ‘n bietjie van Orania asb.
Is daar skole in Orania of waarheen gaan die kinders? Watse kurrikulum gebruik hulle? Watse tale leer die kinders in die skool? Het hulle dalk werk vir twee onderwysers? Sal ek ‘n huis kan bou daar? Is daar dokters?
In Orania woon meer as 1300 mense. Daar is twee skole die Orania CVO-skool en die Volkskool Orania, wat beide op laerskool- en hoërskoolvlak klasgee. Die skole gebruik die kurrikulum van die Independent Examinations Board, wat gewoonlik deur privaat skole in SA gebruik word. Die skole is enkelmedium Afrikaans, maar gee ook Engels as tweede taal. Beide skole het reëlmatig vakatures.
Daar is genoeg spasie in Orania om ‘n huis te kan bou. Pryse van kaal erwe is tussen R140 000 en R500 000. Daar is verskeie ontwikkelings wat nou plaasvind en die moonlikheid bied om ‘n eie huis te bou. Van die groter ontwikkelings is Karoosig (50 erwe), In-Die-Boord (20+ erwe) en Vluytjieskraal Noord (100+ erwe).
Daar is ook een basiese dokter by die Orania Mediese Sentrum beskikbaar.
Meer inligting oor Orania kan jy ook op die Engelse Wikipedia vind of by die Orania Beweging.
Henk,
dis nou 2021. Die prentjie lyk klaar anders. In Orania word daar gewerk en gewoel.
‘n Verfrissende windjie waai nou daar. ‘n Daadwerklike windjie van verandedering.
Nie ‘n Engelse handdoek ingooi “Winds of change” nie, maar een waarin Afrikaners hul moue oprol met hul skouers aan die wiele van eie beheer … want hulle kan!